Die Boekboetiek

Déjà vu

Wanneer Zabeth Meyer op Kronkelrivier in die Sheldon Manor aankom om werk vir die skrywer Wilbur Sheldon te doen, kan sy nie vermoed dat sy, nog voordat haar tasse uitgepak is, ’n bejaarde paartjie uit ’n rivier in vloed sal moet red nie. Nog minder kan sy vermoed dat ’n belangrike persoon onverwags gaan sterf en daar ’n verrassende aanbod aan haar gemaak gaan word. Dan is daar nog die aantreklike Liam Sheldon wat haar hart vinniger laat klop. Byna teen haar sin word Zabeth betrek by die Sheldon dinastie se donker geheime en verloop haar verblyf op Kronkelrivier heeltemal anders as wat sy verwag het.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Chanette Paul is ʼn bekende skrywer wat al meer as 50 romans gepubliseer het. Déjà vu is ʼn spanningsverhaal met trekke van geskiedskrywing en romanse. Die hoofkarakter, Zabeth Meyer, is ʼn sterk, onafhanklike vrou wat navorsing doen vir bekende skrywers. Daarby is sy besonder aantreklik. Die leser leer haar ken as iemand wat kan optree wanneer daar nood is en selfs haar lewe in gevaar stel wanneer dit nodig is. Haar deernis met haar naaste word telkens in die roman bevestig. Sy kan egter, wanneer dit nodig is, sterk standpunt inneem. Benewens deur haar optrede, word dié karakter ook deur gedetailleerde beskrywing aan die leser bekendsgestel. Chanette Paul is ʼn meester van beskrywing: nie net haar karakters word met fyn pensketse geskilder nie, wat hulle aantrek, wat hulle eet, hoe hulle loop en wat hulle dink dra daartoe by dat karakters oortuigend deurkom. Ook die ruimte word in fyn besonderhede uitgebeeld: byvoorbeeld watter tipe porselein gebruik word en watter wyne die disse vergesel. Die Victoriaanse herehuis word ʼn ruimte wat by uitnemendheid geskik is vir die afspeel van romanse, moord en ander donker dade. Tog bly dit ʼn smaakvol gemeubileerde ruimte waarin die fyn afgeronde maniere van sowel die hoofkarakter as die familiematriarg Ethel perfek inpas – so reg uit die Britse adel.

Die verhaal verloop tydsaam, veral omdat die skrywer geneig is om aandag aan detail te skenk en die karakters en ruimte in besonderhede te beskryf. Teen die middel van die boek begin die spanning opbou en verloop die verhaal aansienlik vinniger tot dit ʼn klimaks en ʼn bevredigende slot bereik.

Chanette Paul is een van die bekendste en suksesvolste skrywers van Afrikaanse spanningsfiksie en romantiese prosa. Haar nuutste bydrae tot die Afrikaanse verhaalkuns behoort die leser te boei en behoort van die rakke te vlieg.

© Marlies Taljard
Titel: Déjà vu
Outeur: Chanette Paul
Uitgewer: LAPA, 2025

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Déjà vu”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top