Die Boekboetiek

Decima

Monumentale Desima in Engels

Eben Venter se monumentale roman Decima is een van die belangrikste romans wat die afgelope paar jaar in SA verskyn het. Alhoewel Venter gewoonlik sy romans in Afrikaans skryf, het hy Decima in Engels geskryf omdat hy die afgelope dekades buite SA woon, hoofsaaklik in Australië.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Eben Venter se monumentale roman Decima is een van die belangrikste romans wat die afgelope paar jaar in SA verskyn het. Alhoewel Venter gewoonlik sy romans in Afrikaans skryf, het hy Decima in Engels geskryf omdat hy die afgelope dekades buite SA woon, hoofsaaklik in Australië.

Decima word deur baie kritici as ‘n outobiografiese werk beskou, aangesien die verteller in die meeste opsigte ooreenstem met die konkrete skrywer Eben Venter. Dit is egter ook ‘n belangrike werk binne die ekokritiek, veral omdat dit die mens se vernietiging van sy natuurlike omgewing en die dier as ‘n bewuste wese uitbeeld. Die twee hooffigure in hierdie roman is albei moeders, beide aan die einde van hul lewens en albei in die laaste fase van die lewe onmiddellik voor die dood: een is Venter se moeder; die ander die renosterkoei Decima êrens in ‘n natuurreservaat in die Oos-Kaap. Die tema van renosterstropery, en daarmee saam die stropery van die mens se hele habitat, asook besinning oor die betekenis van lewe en dood, is die belangrikste temas. Dit is belangrik dat Venter besonder sensitief met sy karakters omgaan en selfs die renosterstropers word nie as stereotipes uitgebeeld nie.

Dit behoort duidelik te wees dat die vertaling van so ‘n werk ‘n prysenswaardige poging is en veral gemotiveer word in die lig van die feit dat die vertaling van goeie werke die literatuur van die teikentaal verryk.

Wat vertaalstrategie betref, het ons hier te doen met die praktyk van selfvertaling. Selfvertaling is uniek deurdat die vertaler meer vryheid het omdat hy nie met ‘n ander outeur se teks werk nie en dus oor die algemeen minder versigtig moet wees vir sogenaamde vertaalfoute. Dit beteken egter nie dat hy volkome vryheid of selfs groot vryheid in sy vertaling het nie. In ‘n onderhoud met die literêre kritikus Yves T’Sjoen erken Venter dat hy homself sekere vryhede in die vertaling toegelaat het. Omdat die roman in die Oos-Kaap afspeel en sommige van die karakters tipiese Afrikaanse mense is, was dit vir hom natuurlik om die roman ook in Afrikaans te vertaal. Hy noem byvoorbeeld dat die Afrikaans van die Oos-Kaap uniek is en dat hy iets van hierdie unieke taal wou oordra. Die name van plante en diere het ook besonder beskrywende name in Afrikaans, wat hy ook in sy vertelling wou verewig. Daarom is die Afrikaanse weergawe van die roman ook effens langer as die oorspronklike Engels.

Wat die tema betref, bly Venter absoluut getrou aan die bronteks in sy vertaling. Die doelteks behou sy skerpte en waar die Engels nie woordeliks in Afrikaans vertaal kan word nie, vergoed die outeur hiervoor op alternatiewe maniere. Alhoewel die vertaler erken dat hy van sekere vryhede gebruik gemaak het omdat hy nie hoef te vrees dat hy ‘n ander skrywer ‘n onreg sou aandoen nie, is die karakterisering, die gebeure, die beskrywings van die ruimte en die chronologiese verloop van gebeure geensins in die gedrang gebring nie. Die vertaling is beslis getrou, hoewel nie ‘n woord-vir-woord-vertaling wat die werk as geheel ‘n onreg sou aangedoen het nie. Dit is die rede waarom die vertaalde Afrikaanse teks soms meer oorspronklik klink as die Engelse bronteks.

Venter het homself oortref in die vertaling van sy boeiende roman “Decima”. Dit is een van die beste vertalings wat ek in al die jare wat ek praktiseer, gelees het. Die Afrikaanse “Decima” is ‘n kunswerk op sigself en beslis ‘n aanwins vir die Afrikaanse letterkunde.

©  Marlies Taljard

Titel: Decima
Outeur: Eben Venter (uit die Engels vertaal deur Eben Venter)
Uitgewer: Penguin 2023

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Decima”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top