Die Boekboetiek

C’est la vie: van lief en leed en kanse vat

Lanie van Reenen is een van die Suid-Afrikaners wat voor die Covid-epidemie ‘n kasteel op die Franse platteland gekoop het. Sy vertel in hierdie boek (wat die eerste in ‘n reeks van drie sou word) van hierdie unieke ervaring. Maar, die storie begin nie by die kasteel nie. Dit is eintlik ‘n memoir wat begin met haar huwelik, die mislukking daarvan, haar suksesverhaal as die eerste besitter van ‘n Biggie Best-winkel, haar gastehuis in die Kaap en hoe sy dit teen ‘n astronomiese bedrag verkoop het.

.Lees meer in die beskrywing hieronder…

Dan, as’t ware op die ingewing van die oomblik en met die ondersteuning van Louis van Vuuren en ander Suid-Afrikaners in Frankryk, koop sy die vervalle kasteel en begin dit restoureer. Geld vloei uit, min kom in, Covid word ‘n nare werklikheid en die finansies druk al hoe seerder …

Lanie van Reenen is ‘n vaardige verteller. Haar verhaal het my gefassineer. Dit is ‘n verhaal van hoop, van  mislukking en oorbegin, weer misluk en wéér oorbegin, wéér misluk … Nooit gee sy moed op nie. Altyd kom sy met ‘n nuwe plan en ‘n nuwe projek vorendag. Marita van der Vyver help haar later om die kasteel as gastehuis te bemark, sy laat maak meubels in Egipte, sy ontmoet interessante mense en word gruwelik misbruik en verneuk, maar lojale vriende bly haar bemoedig.

Die verhaal loop baie draaie, maar lees maklik en vloeiend. Dit is ‘n ware verhaal met mense wat baie van ons ken of van wie ons weet. Daarom is dit maklik om met die karakters te identifiseer en om hulle lief en leed ons eie te maak. Tussen die verhaal van Lanie van Reenen, haar besigheid, haar kinders en haar kasteel, verloop daar ‘n liefdesverhaal so reg uit die regte lewe – ‘n verhaal waarin verslawing, verlating, depressie en geweld ‘n belangrike rol speel, maar waarin regte menslike karakters telkens na vore tree, mekaar vergewe en mekaar nuwe kanse gee. Dit is ‘n verhaal van groot verliese wat ten spyte daarvan ʼn innerlike lig van hoop, geloof in die mens en God in hom dra.

Ek gaan C’est la vie weer lees, want die klein besonderhede wat mens met die eerste lees miskyk, wil ek weer bedink en beskou.

© Marlies Taljard

Titel: C’est la vie: van lief en leed en kanse vat

Outeur: Lanie van Reenen. Derde uitgawe

Uitgewer: Naledi, 2025

 

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “C’est la vie: van lief en leed en kanse vat”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top