Die Boekboetiek

,

Briewe van heldinne: Ovidius se Heroïdes

WJ Henderson is ‘n veelbekroonde skrywer, Emeritus Professor en voormalige dosent verbonde aan die Departement Griekse en Latynse Studies aan die Universiteit van Johannesburg. Hy het talle publikasies oor Literêre Teorie en Kritiek op sy kerfstok, asook vroeëre vertalings van Griekse en Latynse letterkunde.

.Lees meer in die beskrywing hieronder…

In sy onlangs verskene Briewe aan heldinne sit Henderson sy indrukwekkende oeuvre voort: die bundel is die vertalings van een-en-twintig briewe. Agtien beroemde vroue uit die Griekse mitologie en geskiedenis skryf aan hulle minnaars om te verneem hoekom hulle nie skryf of terugkom nie. Die tragiese ironie is dat die helde óf omgekom óf iemand anders gevind het. Intussen wag die heldinne en kyk gedurig of skepe op die horison verskyn. Drie van die helde skryf wel terug om hulle afwesigheid te verduidelik of hulle koms te beloof.

Die briewe oorspan ’n wye spektrum van emosies, gedagtes, mymeringe en omstandighede. Die vyf-en-twintigjarige Ovidius, ’n Romeinse man in die laaste dekade vC, verbaas die leser van vandag met sy uitgebreide kennis van die mitologie en sy vernuftige skildering – en taksering – van die vroulike psige.

Publius Ovidius Naso is op 20 Maart, 43 vC, in Sulmo gebore. Van sy vroegste werk, die Amores, het waarskynlik in 20 vC verskyn. In 8 nC het Keiser Augustus hom verban na Tomis; dat was nooit duidelik waarvoor hy gestraf is nie. In sy ballingskap hou Ovidius aan met dig, en die Heroïdes, sy tweede werk, het verskyn toe hy ongeveer vyf-en-twintig jaar oud was.

Henderson is ‘n besonder knap vertaler. Hy volg die spoor van dié meesterdigter, en die vertaalde briewe oortuig en lees ‘outentiek’ in hul omsetting na die teikentaal.

Ovidius se poësie getuig van tegniese vaardigheid en vindingrykheid. Hy beweeg met gemak tussen outobiografie, liefdespoësie, geskiedenis en mitologie. Sy gebruik van die mitologiese verwysings is indrukwekkend, omdat hy gedurende sy ballingskap in die vreemde geen toegang tot biblioteke, ander digters of vriende gehad het nie. Sy vrugbare verbeelding, weelderige taalgebruik en die uitbeelding van dramatiese patos het tematiese vernuwing gebring.

Briewe van heldinne: Ovidius se Heroïdes is afgestem op die fynproewer van letterkunde, maar ook vir lesers wat van klassieke kultuur en geskiedenis hou. Hierdie is ‘n belangrike publikasie en ‘n onontbeerlike toevoeging tot die Afrikaanse vertaalskat.

© Nini Bennett-Moll

Titel: Briewe van heldinne: Ovidius se Heroïdes

Vertaler: WJ Henderson

Uitgewer: Naledi

 

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Briewe van heldinne: Ovidius se Heroïdes”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top