Hierdie ondervinding het hom handig te pas gekom, nie net in die musiekbedryf nie, maar ook met sy debuutbundel, Klankmanwoordboom (1983). Hierdie werk, wat besonder gunstig deur die kritici ontvang is, is bestempel is as ’n bundel waar “die taalklank en die semantiese waarde van die woord kommunikatief gebind word.”
In 1982 neem Van Rensburg die besluit om die res van sy lewe aan God te wy. Hy verwerf ’n PhD in Teologie, en tree in 2013 af as senior dosent en akademiese dekaan by die South London Christian College. Hy is onder meer die outeur van sewe Engelse Christen-publikasies, en sy belangstellings sluit in om te reis en te skilder. Sy tweede bundel, Heenkoms verskyn in 2021, wat insgelyks ’n besonder gunstige resepsie tot gevolg gehad het.
In Amplitudes & koloriete spil die tematiese kern om die sinergie tussen klank (verteenwoordig deur “amplitudes”) en kleur (vergestalt in “koloriete”). Die digter gebruik hierdie elemente om die kompleksiteit van menslike ervarings te verken – van die stille vibrasies van verlange, tot die lewendige uitbarstings van vreugde. Die verse is geweldig ekspressief en die vername digterlike ingreep is sinestese – skilderye en palette sing en orkestreer selfs; en musiek en ander klankmatige elemente word aan die hand van verskillende kleure verken.
Daar is bykans nie ’n gedig in die bundel wat nie op die een of ander wyse ’n digterlike vernufspel voer nie en die fonologiese, semantiese, morfologiese of sintaktiese moontlikhede van die taal word maksimaal geëksploiteer. Van Rensburg se taalgebruik is ryk en veelvlakkig, met ’n ritmiese kwaliteit.
Die bundelrubrisering geskied in ses dele, naamlik “I Weerklankkleure”; “II Amplitudes”; “III Lord’s krieket”; “IV Paletkoloriete”; “V Pendulebaan”, en “VI Wederkeer- amplitudes”. Reeds met “Weerklankkleure” word die sinestese tussen kleur en klank gesuggereer, en die herhalende aard van klank en musiek word insgelyks geïmpliseer deur “wederkeer- amplitudes”.
Oorkoepelend beskou handel die bundel oor skilderkuns, ekfrastiese verse, musiek, klankverskynsels, natuurtaferele soos blomme, Engelse volkskuns, legendes en mites, en verse oor ou katedrale, skepe en museums. Soos Van Rensburg se vorige bundels beskik ook die derde oor ’n Christelike karakter.
In deel II, “Amplitudes” (27-28) is dit oorwegend musiekinstrumente en hul klank wat bedig word.
Verskeie skilders soos Rembrandt (60), Turner (60) en Van Gogh (63) kom onder die soeklig in Van Rensburg se taksering van verskillende kleur- en klankpalette.
Uiteindelik streef die digter na ’n vólle sinergie tussen die kunste, letterkunde, skilderkuns en musiek – en die bundel eindig op ’n crescendo met “Voltrekking” (107-108), ’n afdeling wat voorafgegaan word deur Bybelse en eskatologiese verwysings. Die digter se strewe word ’n geheiligde sinkronisasie van klank, beeld, woord en Woord.
Ook die spanning tussen kleurvolle en kleurlose beelde (byvoorbeeld verse oor die skilder, J.M.W. Turner se werk), kom aan die bod en skep ’n dinamiese kontras wat die leser uitnooi om die emosionele spektrum te voel.
In geheel is Amplitudes & koloriete ’n bundel vir die fynpoewer van poësie. Die verse maak aanspraak op ’n sterk en prikkelende sintuiglike ervaring, wat die grense tussen kuns, musiek en wetenskap verken.
In die onderstaande kwatryn hunker die digter terug na sy kinderjare in Upington:
Upington se veld
die vlamoranje son se strale brand witwarm, fel
en die Kalahari-rissierooi sand gloei ’n hete hel
toe die bloep-bloep-bloep-reënvoëlroep
vir ons ’n malagietgroen droomtoekoms voorspel (82)
©Nini Bennett-Moll
Titel: Amplitudes & koloriete
Digter: Meyer van Rensburg
Uitgewer: Imprimatur 2025


Reviews
There are no reviews yet.