Die Boekboetiek

,

Alten Akkedis se sewe sterte

Alten Akkedis en Frieda Verkleurmannetjie is beste vriende. Hulle gesels lekker en sien na mekaar om. Alten vertel vir Frieda hoe hy al sy stert verloor het toe ʼn kwaai vrou met haar skoen na hom geslaan het. Akkedisse kan meer as sewe keer nuwe sterte kry. Wanneer Boeta die by deur die huis se venster vlieg, spuit die nare vrou hom met insekdoder en hy sterf. Die gif affekteer ook vir Alten en Frieda. Gelukkig kan Alten Frieda help om vinnig weg te kom en so red hy haar lewe. Hulle besluit om weg te trek na ʼn tuin waar mense woon wat van diere en insekte hou.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Deur identifikasie met dierekarakters leer kinders in hierdie storie die waarde van vriendskap, uitreik na mekaar, die gevaar van insekdoders en dat mens nie alle vreemde vorme van lewe hoef dood te maak nie. Die boek is ook ʼn les in biologie: wanneer akkedisse skrik, gooi hulle hulle sterte af en sodoende lei hulle die aanvaller op ʼn dwaalspoor. Daar is ook lesse oor verkleurmannetjies en bye. As aanhangsel is daar addisionele interessante feite oor akkedisse.

Soos altyd is Riana Scheepers se taalgebruik kleurryk en idiomaties sodat klein maatjies sommer nuwe woorde, uitdrukkings en idiome al lesend aanleer. Ook sosiale waardes soos vriendskap, lojaliteit en respek vir die natuur vorm deel van die opvoedkundige onderbou van die boek. Die hartseer van vreemdelingehaat, soos die huisvrou wat die by en ander insekte doodspuit, word ʼn werklikheid wanneer Boeta die by sterf.

Een van die belangrikste vereistes vir ʼn kinderboek is die illustrasies. In hierdie boek is elke bladsy kleurvol geïllustreer en die dierekarakters word vriendelik en oorspronklik uitgebeeld. Min teks kom voor en die font word gereeld afgewissel wanneer belangrike teksdele beklemtoon word.

Hierdie is ʼn tipiese tien uit tien-boek en sal in die smaak val van kleuters en kinders in die vroeë primêre fase.

@Marlies Taljard 

Titel: Alten Akkedis se sewe sterte

Outeur: Riana Scheepers

Uitgewer: LAPA, 2025

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Alten Akkedis se sewe sterte”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top