Die Boekboetiek

,

Alles van waarde is weerloos

Die bekende en nimlike digter, Melanie Grobler, se vyfde digbundel Alles van waarde is weerloos, het onlangs by Naledi verskyn – en ek moet bieg: Ek het selde ’n bundel met só mooi omslagontwerp vasgehou.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Die grafiese kuns op die voorplat is gemaak deur die kunstenaar-digter Christiaan Diedericks, wat op 4 Julie vanjaar oorlede is. Diedericks het voor sy afsterwe ook die omslagkuns vir die bundel Nogmaals vir die bysiende leser, wat Joan Hambidge en Marlies Taljard oor Wilma Stockenström saamgestel het, gedoen.

Melanie Grobler is ’n bekroonde digter en haar oeuvre bestaan uit: Tye en Swye in die lewe van Hester H; Die Waterbreker; Deur ruite van die reis; Huis Van Tyd, en Vlindervreter (Melanie Grobler & Christiaan Diedericks).

Grobler se jongste bundel handel, in kort, oor die verlies van ’n lewensmaat.

“Alles van waarde is weerloos”, die titel van die poësiemanuskrip, is ontleen uit Lucebert se gedig, “De zeer oude zingt”. Volgens Grobler is titel is nomadies en verwys dit ook na Breyten Breytenbach se beskouing van die nomade. Grobler het immers ’n doktorale studie oor die kuns en denke van Breyten Breytenbach gedoen, waartydens sy ongeveer ’n duisend skilderye, tekeninge en installasies van Breytenbach in Parys, Haarlem, Kaapstad, Durban en Pretoria gefotografeer en besudeer het. In 2002 verwerf sy ’n doktorsgraad in kunsgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria met ’n proefskrif getitel “Against fixity: a hybrid reading of Breyten Breytenbach’s art, poetry, writing, aesthetics and philosophy”.

Die gedigte is in vrye vers geskryf en die toonaard is surrealisties. Die gedigte beïndruk met veral die besondere en bekoorlike gebruik van metaforiek en bewussynstroomtegniek.

Tematies handel die verse oor die afsterwe van ’n geliefde (die digter-spreker se man), en oor ruimtelikheid. Die verwysings na plekke word ingepan om hierdie rouproses figuurlik te lokaliseer, en om sin te maak uit die siklusse van die lewe en die dood. Daar is ook ’n sterk spirituele kwaliteit teenwoordig in Grobler se gedigte. Tematies skakel hierdie bundel dan met Petra Müller se Die aandag van jou oë, wat insgelyks handel oor weduweeskap en die verwerking van verlies.

Volgens Grobler het haar man, Piet Grobler, wat ‘n LV in die vorige bedeling was, se dood het haar die geleentheid gebied om oor die grens van verganklikheid te dig.

7

 

Soos ’n ruit wat stadig draai
onthou ek die landskap van jou lyf
môre sal ek die alfabet op jou vel afwas
ook die liefdesgedig wat ek daar geskryf het.
Die bed is reeds opgemaak
onder die donker karos wag jy
of staan op om al die geheime lettertjies
wat ek teen jou mure skryf, te lees.
As die son die dag wond sal ek my vlieër
van opgeskeurde gedigte
na die hoër lugstrome
van jou stiltes stuur. (bl 15)

Ook Grobler se digterlike alter-ego’s soos Hester Harov en Hestertjie Haarnaald kom, soos in haar vorige werk, aan die bod. Hester Haarnaald het haar verskyning gemaak in Grobler se debuutdigbundel, Tye en swye in die lewe van Hester H. In die gedig “Die mooi boekie van Hester Harov” skryf sy oor die eklamptiese vrou en die miljarde mites waarvoor die liggaam gasheer is. Die digter se jarelange stryd (waarin sy een nier verloor het) om ten alle koste drie kinders te kon hê ten spyte van haar rare bloedgroep, O-negatief, het ’n belangrike onderliggende tema in haar skryfwerk geword. Dit kom veral na vore in die onderstaande gedig.

4

 

Tye en swye in die lewe van Hester H

 

Loof en prys Hester, wat op die blaaie van julle afwesige aandag skryf
prys die boegbeeld as die meisiekind met haar rooi lipstiffie
na die koue water van die Baltiese Binnewaters vaar
loof haar vaartuig, Die Waterbreker, loof haar as sy terugkeer
na die bidsprinkaan en haar geboorteplek
prys die kolonisasie van die VOC, die Anglo-Boereoorlog

Apartheid, die Grensoorlog en al die plaasmoorde
prys die okkulte herlewing in die postapokaliptiese ruimte
prys die dekadente partytjiegangers
prys die toekomsgenerasie met karmosyn holle
loof die heldin wat onder die neonlig stook
kyk sy rus op die wolke met haar bloedrooi hare
sy eet kerrievis en suurvykonfyt, sy is een van julle
moet haar nie verjaag nie. (bl 52)

Hierdie is ’n lieflike en ontroerende digbundel – en ’n moet-lees vir liefhebbers van poësie. Hou maar die boks snesies byderhand.

43

My mamma is ’n doekvoetdigter
wat van die uitgekalkte denkpad droom
sy stap, haar lyf ’n skemer uitkoms.

My mamma se vingers loop ’n jakkalsdraai
oor die diepste vlaktes van die Karoo
sy skryf vir oulaas met ’n handvol tyd
ons luister na haar gesange
arms uitgestrek soos Jesus aan die kruis.

Hoe sal ons ooit oor die stilte kom? (bl 51)

©Nini Bennett-Moll

Titel: Alles van waarde is weerloos
Digter: Melanie Grobler
Uitgewer: Naledi 2025

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Alles van waarde is weerloos”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top