Spaartyd
Elke naweek is die weduwee geregtig op 20 minute gratis lugtyd, sê die selfoonkontrak. Die hele week wag sy op haar spaartyd. En sy bel onverpoos, maar die kinders breek naweke weg, hulle antwoord nie.
Die weduwee stap vir die soveelste maal buitentoe vir goeie ontvangs. Hoflik begroet die stempos-vrou haar. Dan bel sy ’n vriendin, Anna.
Dié kyk hoe die weduwee se nommer oor haar streelpaneel flits, herken dit, antwoord nie.
Anna het longkanker, ses maande spertyd, onthou die weduwee skielik.
In ’n donker kamer lê Anna. Die gifmasker met die chloroformlappe het sy lankal beplan. Die pille. Twee briewe en die luiende selfoon lê op die bedkassie, pynlose selfdood.
Sy stik in die skerp dampe; draai haar kop na die selfoon wat Mozart se veertigste vir die laaste maal vir haar klingel.
Die weduwee kyk na die naam op die skerm. Geen stempos.
Anna se oë val toe. Sy droom ’n groot troupant lig haar op en vlieg hoog bo die aarde met haar weg.
Eindelik: “The subscriber you have dailed is not available…”
“Met wie gaan ek my spaartyd dan deel?” huil die weduwee radeloos.
Dan vlieg ’n troupant argeloos – en asemloos mooi – oor haar kop verby.
- Nini Bennett- Moll