Nini Bennett-Moll:
Baie welkom by Die Boekboetiek, Rina. Jy het op 12 Oktober verlede jaar jou 92ste verjaardag gevier. Jy is amptelik die oudste aktiewe en publiserende skrywer, digter en vertaler in Afrikaans, wat op die ouderdom van 88 gedebuteer het. Vertel ons allereers iets van die mens ágter die boeke. Waar kom jy vandaan, wat het aanleiding gegee tot jou liefde vir letterkunde en skryf-/vertaalkuns?
Rina Cascione:
Baie dankie dat ek met jou kan gesels Nini. Ek is in ’n klein dorpie, Middelpos, wat tussen Sutherland en Calvinia lê, gebore. Middelpos is vandag in privaat besit. In my laerskooldae het ons as gevolg van omstandighede baie rondgetrek, maar ek was in standerd vier en vyf in die Diamantveld Laerskool in Kimberley. Daarna het ons na Postmasburg verhuis waar ek matrikuleer het.
Wat my liefde vir letterkunde en skryf betref, het ons skoolhoof, dr. Grobbelaar, wat in standerd nege en tien ons Afrikaanse taalonderwyser was, my baie begeester en beïnvloed. Hy was entoesiasties en onder sy leiding het ek die voorgeskrewe boeke en gedigte geweldig geniet. Ek onthou hoe hy in die gedig Mabalêl na die klingelinge van haar enkelringe verwys het.
NB-M:
Wanneer het jy besef jy het skryftalent? Was daar mense wat jou aangemoedig het; gementor het, ensovoort?
RC:
Ek dink ek het op hoërskool besef dat ek graag wou skryf. Dr. Grobbelaar het my opstelle aangeprys en my vir ’n landswye opstelwedstryd ingeskryf waarvoor ek ’n spesiale prys ontvang het. Ons onderwyser vir Engels was ook baie inspirerend en ek was verslae toe hy in my matriekjaar terug universiteit toe is om in die regte te studeer. Ek het daarvan gedroom om joernalis te word en tale te studeer, maar die lewe het ander draaie met my geloop.
My pa het skryftalent gehad – ek het sy boekrak en boekery geërf – en my eerste aanraking met vertaling was dié van my pa wat Engelse liedere in Afrikaans vir my stiefmammie, wat klavier gespeel en gesing het, vertaal het. Hy het byvoorbeeld When it’s Springtime in the Rockies vertaal as Is dit Lente in die Hange. In ’n stadium kom in hierdie vertaling die volgende voor: Eksal weer sê ek bemin jou/ as die voëltjies lente roem/ as die nag die aandblom oopvou/ sal ek jou my liefling noem.
Verder wou ek met my BA-studies by UNISA Duits neem, maar omdat ek nie Duits op skool gehad het nie, moes ek eers ’n jaar voorbereidende kursus doen wat hoofsaaklik vertaling van Duits na Afrikaans behels het. Dit is waar ek besef het dat ek baie daarvan hou om te vertaal.
NB-M:
Jy was ’n musikus wat ook oorsee, by die beste leermeesters, studeer het. Vertel ons gerus meer; en is daar ’n vir jou ’n verband tussen musiek en letterkunde – is dit ’n simbiose waar verskillende kunsgenres mekaar wedersyds voed/op mekaar inspeel?
RC:
Ek was bevoorreg om oorsee te studeer. Veral in Genève waar ek onder die befaamde Louis Hiltbrand klavier kon studeer, het ’n nuwe wêreld as’t ware vir my oopgegaan – waar ’n pedagoog poog om die beste in jou na vore te laat kom en jou laat verstaan dat jy baie meer het as wat jy nou gee. Dat probleme opgelos kan word en jou nie moet verhoed om uitdrukking aan die musiek te gee nie.
Daar is ’n verband en simbiose tussen die kunste soos byvoorbeeld die Romantiese, impressionistiese en moderne periodes, om net ’n paar te noem, wat in al die kunste voorkom. Dan is daar byvoorbeeld ritme wat in musiek, digkuns en ook in beeldhoukuns, waar beweging geïmpliseer word, voorkom. Ook die geheelbeeld van ’n ingestudeerde musiekstuk of dié van ’n skildery. Hiltbrand was van mening dat die aandag nie net op die klein blommetjies nie, maar veral op die landskap gevestig moet wees.
NB-M:
Jy het jare in Europa deurgebring en jy was ook met ’n Italianer getroud. Vertel ons asseblief meer: Watter faset van die Europese leefwêreld het jy die meeste waardeer – of geniet? En watter faset van die Suid-Afrikaanse leefstyl lê jou na aan die hart?
RC:
My eerste ondervinding van Europa was in 1968 in Strasbourg, Frankryk. Kultureel het dit ’n groot inpak op my gehad – die argitektuur, die Middeleeuse katedraal met al die kunswerke, die kanale en die brûe, die bewolkte weer en die tipiese boustyl van die huise in daardie stad. Die Franse se individualiteit het my baie beïndruk en dit het my vir lank laat kopkrap oor watter winkel op watter namiddag in die week toe is. Met die Paasvakansie het ek op ’n trein geklim en beide Florence en Rome besoek. Die inpak van die Dawid-beeld en die Duomo (katedraal) in Florence en die Sint Peter’s kerk en die Vatikaanmuseum in Rome was onbeskryflik. Daar het ek beeldjies van beroemde kunswerke gekoop en vir my familie in Suid-Afrika laat aanstuur en elkeen is – teen my stoutste verwagtinge – afgelewer.
Ek dink dis die kulturele faset en die kunsskatte in Europa wat ek die meeste waardeer.
Rome het glo naas Pretoria die meeste son in die wêreld, maar veral in Strasbourg waar ek van Augustus 1968 tot die volgende jaar in Junie nooit die son gesien het nie, het die eerste son daar ontsettende heimwee na sonnige Suid Afrika in my ontketen. Wat in Suid-Afrika my ook na aan die hart lê is die gasvryheid en dat daar nie die Europese gesteldheid op titels soos Doktor of Professor is nie.
NB-M:
Jy is een van die mees gesaghebbende vertalers in die land, en het sedert jou debuutdigbundel, Meer as woorde (2021) jou vertaalvernuf in verskeie tale gewys. Daarna het die poësievertalings van Alda Merina se Kliniek van verlatenheid (2022) uit die Italiaans gevolg. Oor dié bundel skryf Joan Hambidge in haar resensie op Versindaba: “Vertalings verryk ’n letterkunde en hierdie een van Cascione is ’n belangrike deur wat oopgemaak word. […]”
Die roman, Pater Meus (2024) van Mario Relandini wat jy insgelyks uit die Italiaans vertaal het, het ook groot lof ingeoes by kritici soos die letterkundige en vertaalkenner, Naòmi Morgan. Loop jy lank met die idee om ’n skrywer te vertaal, of geskied die impetus daartoe vinnig – of spontaan?
RC:
Ek het baie van Merini se Kliniek van verlatenheid gehou en ’n paar gedigte daaruit vertaal en aan ’n digtersvriendin, Eunice Basson, gestuur om dit met haar te deel. Sy het ’n e-pos gestuur waarin sy my aangemoedig het om die hele bundel te vertaal. Ek het baie lank daaraan gewerk en ook baie herskryf. Charl-Pierre Naudé was van mening dat ek dit vir publikasie kon voorlê.
Pater Meus het ek by ’n familielid in Italië gelees en só baie daarvan gehou dat ek dadelik geweet het dat ek dit wou vertaal.
NB-M:
En in tandem met die vorige vraag: Wat is jou grootste frustrasies as dit kom by die vertaling van Italiaanse tekste na Afrikaans? En wat is jou grootste vreugdes tydens dié proses?
RC:
My grootste frustrasie is die verskil in sintaksis tussen Italiaans en Afrikaans. Ek moet male sonder tal herlees om net telkens te besef dat ek iets beter in Afrikaans kan stel.
My grootste vreugde is wel wanneer ek dink dat ek die atmosfeer en nuanses in ’n vertaling kon vaslê.
NB-M:
Vertel ons iets interessants van jouself wat jy nog nooit in ‘n onderhoud genoem het nie.
RC:
Ek was baie verstrooid, veral toe ek jonk was. Eendag toe ek in my matriekjaar van die skool af kom, vertel my ma dat mev. Grobbelaar, ons skoolhoof se vrou by wie ek musiek geneem het, by haar tee gedrink het. Sy vertel my ma dat sy by haar man gekla het dat ek verstrooid is. En sy sê: “En wat sê my man vir my? Hy sê: “Aag, los die kind! Sy’s ’n kunstenaar.”
Ek het toe ek skool gehou het een aand tot laat klavier geoefen. Toe ek by my woonstel aankom, sien ek dat my wekker staan. Met my gedagtes nog steeds by waaraan ek geoefen het, het ek begin om my wekker reg te stel. Toe ek klaar is, sien ek tot my konsternasie dat ek my horlosie wat loop gestel het soos my wekker wat staan!
’n Hartsvriendin van my het ook ’n musiekpos in die Kaap gehad – sy in die Suidelike, en ek in die Noordelike voorstede. Ons het saam loseer en mekaar dikwels onder die horlosie op die Kaapse stasie ontmoet om saam inkopies te doen. Een aand het ons besluit om mekaar liewer by die koffiekamer naby die Groote Kerk te kry waar die een wat eerste aankom rustig kon wag. Die volgende dag het ek ’n boek op die trein gelees en amper nie besef dat ek reeds op die Kaapse stasie is nie. Ek het my plek onder die horlosie ingeneem, maar al wat kom was my vriendin en ek het later alleen inkopies gedoen. Toe ek by ons losiesplek aan die hekkie raak, val dit my toe eers by van die koffiekamer. En toe my vriendin my sien: “Jou ou guy! Jy’t natuurlik onder die horlosie gewag!”
NB-M:
Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
RC:
In my vrye tyd lees ek graag en speel ook klavier. My Yorkie hou my graag geselskap. As ek klavier speel sit hy op ’n stoel langs my, maar ek moet dit bietjie weg skuif, anders lê hy met sy kop op my arm.
NB-M:
Wat se raad het jy vir aspirant digters, skrywers en vertalers? Wat se ‘lesse’ het jy op die duur manier geleer wanneer dit by die skryf- en vertaalprosesse kom?
RC:
Ek dink my eerste en belangrikste raad is om oop te wees vir kritiek. Gelukkig het ek in musiek geleer dat kritiek vordering en verbetering beteken. ’n Tennisspeler hou seker nie altyd van wat sy/haar afrigter sê nie, maar weet wel dat dit op uitmuntendheid gerig is. ’n Begaafde musikus het eendag gesê: “Ek luister altyd na kritiek, want dit beteken daar’s iets wat pla.”
Die lesse wat ek geleer het, is om nie haastig te wees nie en dat jou eerste poging nie noodwendig jou beste is nie. Dit wat mens in jou entoesiasme neerpen, lyk nie dieselfde as jy dit ná ’n ruskans weer bekyk nie. Dis dus belangrik om te lees en baie te herlees en te herskryf – ook om lees asof iemand anders dit geskryf het en jy dit moet beoordeel.
NB-M:
Watter skrywers en digters is vir jou ’n inspirasie, en waarom? Wat/wie lees jy graag?
RC:
Dis moeilik om uit te sonder, maar as digters seker eerstens Van Wyk Louw, Johann de Lange, Antjie Krog, TS Eliot, en die lys kan aangaan. Ek is veral gaande oor De Lange se gedigte oor die natuur en sy fyn waarneming soos byvoorbeeld in die Hottentotsgot uit Stil punt van die aarde. Ek hou ook baie daarvan om biografieë en briewe van skrywers te lees soos dié van die Van Wyk-broers, Elize Botha, Uys Krige, Ingrid Jonker en Brink.
NB-M:
Waarna kan die leser volgende uitsien uit die pen van Rina Cascione? Vertel asseblief meer!
RC:
Ek het so pas Italiaanse kortverhale vertaal. Twee van die skrywers het die Nobelprys vir Letterkunde ontvang en ek hoop dat lesers die verhale sal geniet.
Baie dankie vir ’n heerlike onderhoud, Rina!
Titels: Meer as woorde, 2021 (digbundel); Kliniek van verlatenheid, Alda Merini se gedigte vertaal uit die Italiaans (2022); Pater Meus, 2024 (roman, soos uit die Italiaans vertaal na Afrikaans)
Outeur: Rina Cascione
Uitgewer: Naledi