Titel: Wanneer die krieke stil word
Outeur: Petro Kotzé-Odendaal
Uitgewer: Naledi
Nini Bennett-Moll:
Baie welkom by Die Boekboetiek, Petro. Jou memoires, Wanneer die krieke stil word, het behoorlik ‘n roering in die boekwêreld veroorsaak. Vertel asseblief meer oor die mens agter die boek. Waar kom jy vandaan, wat het aanleiding gegee tot die skryf van die roman, en is die verhaalgegewens outobiografies?
Petro Kotzé-Odendaal:
Goeiedag Nini, dis ‘n voorreg om te kuier by Die Boekboetiek. Dankie vir die
wonderlike geleentheid! Ek is ‘n gebore en getoë ‘n Noordwester en bly my hele lewe lank nog in Orkney en die afgelope 5 jaar in Klerksdorp. Vir die afgelope 5 jaar is ek gelukkig getroud met ‘n pragtige man van God, met die naam Francois, en ons is die herderspaar van Lighuis Familiekerk waarvan ek die senior pastoor is. Ek het een seun genaamd Wayne wat 20 jaar oud is. Hy is besig met sy onderwysgraad op NWU.
Ek was jare lank in die modelbedryf en is voormalige modelskool-eienaar en titelhouer van verskeie skoonheidstitels. Na die dood van my eerste man het ek voltyds in die bediening gegaan. Ek is radio-omroeper by Life FM, ons plaaslike geestelike gemeenskapsradiostasie asook die stigter van die NPO Voetlig Bedieninge wat my baie naby aan die hart lê. Ek het ‘n vroeë
kinderontwikkelingsentrum genaamd Rainbow Rascals en het vanjaar myself bekwaam as Gr R-onderwyseres. Ek geniet die buitelewe en swem, stap, werk in die tuin of sit sommer net en lees in die son. Wanneer die Krieke stil word is my persoonlike lewensverhaal
NB-M:
Aldus jou memoires het jy geweldig baie trauma in jou lewe verduur, maar
wonderbaarlik deur alles gekom, en vandag is jy gelukkig getroud, met jou eie bediening. Vertel gerus meer.
PK-O:
Om uit gebrokenheid op te staan kan net gebeur as jy werklik wil vry wees van gister. Dis waar, ek het baie trauma beleef, maar daar is geweldig baie vroue wat elke dag my storie leef. Vir my is die Here so so goed. My lewe getuig soos Psalm 103 waar die psalmdigter verklaar dat die Here se weldade verstommend is. My NPO Voetlig Bedieninge is gebore in een van die swaartse tye in my lewe. My eerste man was pas oorlede en ons seuntjie net vier jaar oud. Die bank het ons voertuie terug gevat en ek het finansieel alles verloor. Tog was daar genoeg oor dat die Here weer nuwe dinge vir my en my seuntjie kon doen. Voetlig fokus op kinders wat daagliks my kinderlewe moet leef. Ouers wat verslaaf of werkloos is, aggressie, onstabiliteit en om uitgestoot te word deur jou skoolmaats omdat jy die “weird” een is. Ek weet hoe dit voel, daarom is Voetlig my passie. Nadat ek in 2017 aggressiewe derde graadse borskanker gekry het, het ek anders na my lewe begin kyk. Wanneer
jy die dood in die oë kyk, is die bome vir altyd groener en besef jy dat geleenthede soms net een maal padlangs kom. Geleende tye. Ons moet dit gebruik!
En ek het. Al was ek reeds jare besig met Voetlig, en al was ek ‘n raakvatter
enkelma, alleen broodwinner en ‘n “tough cookie” wou ek so graag ook voel hoe dit voel om liefgehê te word. Ek het die Here gevra om vir my my man te stuur. Ons het in Covid by ‘n bandewerkswinkel ontmoet as gevolg van ‘n “pothole” wat ek met my kar getref het. Francois was daar met sy kar vir wielbalansering, ek ook. Wat is die toeval dat ons paaie kon kruis? Feitlik nul. Maar die Here het definitief ‘n fyn humorsin en ‘n baie romantiese streep. Hy het Franscois reg onder my neus kom neersit! Dit was in Julie 2020, ons is in Desember 2020 getroud, en vandag steeds dol gelukkig. Dis waar dat die Here selfs die stukkendste lewe kan heelmaak. Maar dit begin by ons! Ons moet gister los en vandag met altwee hande vasgryp. Ek is so bly ek het!
NB-M:
Wanneer het jy besluit om jou verhaal neer te pen en met die wêreld te deel? Loop jy al lank met die idee, of het die impetus daartoe vining – of selfs impulsief –ontstaan?
PK-O:
Ek het nooit eens ‘n gedagte daaraan geskenk om hierdie storie te skryf nie. Dis ‘n harde, seer storie en baie persoonlik. Maar nadat die Here my hart kom heelmaak het en ek my persoonlike getuienis begin deel het by vrouetee’s en ander platforms, het Stefaans Coetzee ook my storie gehoor. Hy het my begin aanpor om my storie in boekvorm uit te gee. Ek was by sy Slypskool in 2024 en hy het my gementor om my boek te skryf. Sonder sy aanmoediging sou dit vir seker nie gebeur het nie. Dis nie maklik om jou hart en menswees so absoluut te ontbloot vir die wêreld nie. Maar sedert my boek in Junie vanjaar uitgekom het, het my storie die stigma wat aan gesinsgeweld kleef, gebreek in baie mense se lewens. Daarom is ek dankbaar dat ek deurgedruk het selfs in tye wat ek wou handdoek ingooi. Ek is nie ‘n impulsiewe of emosionele persoonlikheidstipe nie. Ek het egter baie gebid omdat ek nie buite die Here se wil met enige iets in my lewe meer wou wees nie.
Ek is oortuig daarvan dat die skryf van my boek, en die ander boeke wat nog gaan volg, deel van God se groot plan vir my lewe is. Boeke laat ons woorde voortleef, selfs al het ons gesterf. Ek wil ‘n “legacy” los met my boeke. Dat hulle wat vasgevang, gebroke, siek of seer is sal weet, die Here kan help. As Hy dit vir my kon doen kan Hy dit vir enige iemand doen.
NB-M:
Vertel ons iets interessant van jouself wat nie in jou memoires voorkom nie.
PK-O:
Ek is hoogs allergies vir ‘n heuningby se steek en was een Paasnaweek die hele naweek op ‘n drup in die hospitaal omdat een heuningby my bokant my oog gesteek het.
Ek is baie lief vir iets lekkers eet by ‘n koffiewinkel of restaurant saam met my geliefdes. My tale van liefde is fisiese kontak en woorde. ‘n Drukkie laat my hart sommer altyd sing. Die mooiste geluid op aarde vir my is kinders wat lag.
NB-M:
Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
PK-O:
Ek is baie lief vir die son, water en grond. Ek geniet dit om in die tuin te krap, sonder handskoene! Sondaemiddae sonbaai en swem ek die hele middag as die weer dit toelaat. Om ‘n koffie-date met my man te hê bly een van my lekkerste bederfies. Ook ‘n lunch-date met my nou 20-jarige seun is ‘n groot blessing.
NB-M:
Wat se raad het jy aan vroue (en kinders) wat mishandel word? In Wanneer die krieke stil word lê jy jouself volledig bloot op die lesersaltaar. Was die skryf van boek ‘n pynlike, intense proses, of het jy dit objektief en afstandelik benader?
PK-O:
Ek wens daar wat ‘n yyfpuntplan wat ek kon gee aan vroue en kinders wat
vasgevang is in mishandeling. Ongelukkig is daar nie. Vir my was dit ‘n verskriklike lang nagmerrie waaruit ek net deur die Here se genade kon kom. Maar ek het lesse geleer wat ek kan deel.
1 .Nee is nie ‘n vloekwoord nie.
2. Gesonde grense is nodig.
3 .Know your worth.
4. Mense doen aan jou wat jy toelaat.
5. Jy moet van die eerste keer af dat iemand oor jou grense trap dit streng verdedig. Moenie bang wees om te baklei vir wat reg is nie.
6 .Jy is sterker as wat jy dink.
Ongelukkig leer mense wat uit gebroke huise kom dat hulle menswees nie
saakmaak nie. Hulle opinies tel nie. Kry dus berading, skakel in by ‘n kerk, gaan sien die sielkundige, vra die Here vir hulp. Hou aan tot jy heel is. Ek het die boek afstandelik benader. Dit is slegs wanneer jy gesond is dat jy so ‘n tipe boek kan skryf. Ek moes na baie van die plekke teruggaan en weer delf in die voelgedeelte, weer die emosies opdiep. Al was dit nie meer pynlik nie, was dit ‘n uitputtende proses, maar dit het my ook laat besef hoe ver ek gekom het en waar die Here my uit kom haal het.
NB-M:
Wanneer het jy besef jy het skryftalent? Was daar mense wat jou aangemoedig het; gementor het, ensovoort?
PK-O:
Reeds op skool was ek uitstekend met opstelle en toesprake. Ek het ‘n A+ vir
Afrikaans HG op my matrieksertifikaat gekry, juis oor my uitstekende skryfwerk. Maar die lewe het gebeur en daar was nooit geleentheid om my skryfvermoë te slyp nie. Ek het baie preke geskryf, altyd met stories in my kop rondgeloop, maar daar was net nooit tyd vir my eie drome najaag nie. Tog laat God dinge ten goede meewerk vir ons en gebeur Sy plan vir ons. Ek is die Here ewig dankbaar dat my paaie Stefaans Coetzee s’n gekruis het. Ons het mekaar ontmoet reeds tien jaar gelede toe hy vir Feed a child gewerk het by ‘n NPO-geleentheid. Daar was toe geen sprake van skryf nie. Maar jare later het die Here hom gebruik om my skryfwerk te aktiveer.
NB-M:
Daar is soveel mooi en lofryke dinge gebore uit soveel pyn en vernedering wat jy moes deurgaan, aldus jou roman. Wat is jou beskouing hieromtrent?
PK-O:
Ek weet dit klink nie reg nie, maar ek is dankbaar vir elke stukkie seerkry in my lewe. Ek wil dit asseblief nie weer beleef nie, maar ek sou nie vandag gewees het wie ek is as ek nie deur hierdie dinge gegaan het nie. Vir my is die antwoord dat hierdie wêreld en al sy dinge verbygaan. Ons is ewige wesens oppad na ‘n ewige lewe. Almal van ons dra een of ander las. Die keuse om ‘n slagoffer óf meer as ‘n oorwinnaar te wees hang slegs van jouself af. Ek kies Meer om as ‘n Oorwinnaar te wees. As gevolg van my verhouding met die Here kan ek vry wees.
NB-M:
Ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat Wanneer die krieke stil word al meer as een herdruk beleef het. Dit is ook so dat al meer vroue, wat slagoffers was/is van geweld, na vore tree en hulle verhale met Jan Publiek deel. Jy is ook ‘n geliefde en bekende openbare figuur. Vertel ons asseblief meer?
PK-O:
Ek is dankbaar om te sê dat Wanneer die Krieke stil word reeds in haar derde druk is! Krieke is ook gekies deur LitNet as een van die top tien lewensverhaalboeke van die afgelope 100 jaar. Ek het die voorreg gehad om hierdie jaar in Sarie, Lig, Bruis en Rooi Rose te wees, ook op Groot Ontbyt en heelwat radiostasies onder andere RSG en Radiokansel. Boekgesprekke, vrouetee’s en vrouekampe is tans deel van my lewe! Die resensies van my boek is almal baie goed en my hart loop oor. Ek voel soos iemand wat droom. Ek bid al baie lank Jabes se Gebed: Here, stort U seën oor my uit. Gee vir my groot grondgebied. Laat U Hand met my wees. En weer die onheil van my af dat smart my nie tref nie. Met Krieke het die Here my gebede gehoor. Die feit dat my storie opslae maak, soveel harte aanraak en vrymaak is alles net genade. Ek voel so begenadigd.
NB-M:
Waarna kan die leser volgende uitsien uit die pen van Petro Kotzé-Odendaal?
PK-O:
Ek wil graag ‘n Krieke 2 skryf. Daar was so baie reaksie uit van die hoofstukke van lesers. “Hoe het jy opgehou om bang te wees?’ “Kry jy nog angsaanvalle?” “Gaan die kwaad ooit heeltemal weg?” Daardie vrae moet geantwoord word, so Krieke 2 is op pad. Ek wil baie graag geestelike boeke skryf oor goed wat saakmaak. Ek vertrou die Here vir die geleentheid om dit te doen. Ek vermoed ek moes op 20 begin skryf het, so ek is ver agter! Skryf is ‘n wonderlike nuwe beroep, roeping vir die deel van my lewe wat nog voorlê. Ek hoop dat ek sal kan skryf tot op my heel laaste dag.
NB-M:
Baie dankie vir ‘n heerlike onderhoud, Petro!