Nini Bennett-Moll:
Louise, baie geluk met die verskyning van jou roman, Toevlug (LUCA, 2024). Maar allereers: vertel ons meer van jouself – die mens agter die boek. Waar kom jy vandaan; wat het jou studies behels; wat is jou passie in die lewe, en waar kom jou liefde vir boeke vandaan?
Louise Viljoen:
Baie dankie, Nini.
Ek is op Louis Trichardt in Limpopo gebore en dis ook waarom my naam Louise is. My ma het my pa uit selfverdediging doodgeskiet toe ek agt jaar oud was. Hoewel ek ook goeie herinneringe van hom het, was hy ‘n gewelddadige man wat my, my ma en my sibbe gereeld aangerand het. My ma het met haar dapper optrede ons lewens gered. Ek het daarna by my grootouers – wonderlike mense! – grootgeword op ‘n klein Vrystaatse dorpie.
Jare later het ek op ‘n groter dorp in die Vrystaat by ‘n privaat skool gewerk en selfs vir ‘n paar jaar die rol as skoolhoof vervul. Daarna het ek en my man na Jeffreysbaai verhuis, waar ek my in my liefde vir lees en skryf kon verdiep. Boeke was nog maar altyd vandat ek kan onthou onlosmaaklik deel van my lewe. Ek werk al vir baie jare vryskut as manuskripontwikkelaar en tekspraktisyn vir uitgewers en privaat kliënte.
Tussendeur het ek die voorreg gehad om my ma, ‘n demensielyer, te versorg tot haar dood. Dit was nie ‘n maklike taak nie, maar ek is so bly dat ek só vir haar kon dankie sê dat sy destyds ons lewens gered het. My dogter, my enigste kind, is getroud. Sy en haar man boer op ‘n plaas in ‘n ander provinsie. Ons sien mekaar min maar danksy tegnologie is ons gereeld in kontak. Sy is ‘n boekwurm nes haar ma.
Ons het onlangs ‘n plasie ‘n klein entjie buite die dorp aangeskaf, waar ons ons droom om selfonderhoudend en onafhanklik van die nasionale kragnetwerk te wees ten volle uitleef. Dis my werk om die hoenders, ganse, makoue en eende te versorg. Dis beslis nie iets wat ek gedink het ek ooit sou doen nie, haha, maar die geveertes het voorwaar elkeen ‘n eie persoonlikheid en ek geniet hulle manewales sommer baie. Die ganse storm my uitbundig met oop vlerke en blaasgeluide tegemoet. Hulle skop ‘n hengse kabaal op wat my ore laat tuit. Dis lekker en dis anders. En dit gee my kans om ‘n bietjie van die rekenaar af weg te kom.
Verder is ek besig met nagraadse studies in teologie sowel as ‘n jaarkursus in pastoralesorg en krisisintervensie. Ek hoop om vorentoe die beginsels wat ek leer in my volgende boeke toe te pas, sodat ek my lesers meer daadwerklik kan toerus om deur seer en swaar te werk.
NB-M:
Jy het bekendheid verwerf vir jou twee boeke, beide met ‘n Christelike karakter, naamlik Gesinstyd met God (2022) en Toevlug, soos reeds genoem. Vertel gerus meer: Wat was die impetus tot die skryf van dié twee boeke? Vertel gerus ook meer van jou ander skryfwerk en publikasies.
LV:
Daar het al vyf boeke uit my pen verskyn: ‘n geestelike roman, wat nie meer in druk is nie, en twee kinderboeke – ook Gesinstyd met God en Toevlug, my jongste boeke. Ek het al honderde boeke formeel en informeel geresenseer. Daar is sowat 300 artikels (op webwerwe en in koerante en tydskrifte) en verskeie kortverhale (in bundels, op Litnet en in tydskrifte) op my kerfstok. Dan het ek ook al meer as 1 000 stukke vertaalwerk voltooi.
Ek glo dat ‘n mens jou talente tot eer en verheerliking van God moet gebruik. Psalm 45:2 lê my na aan die hart: “My hart word bewoë deur goeie woorde; ek dra my gedigte voor aangaande ‘n Koning; my tong is die pen van ‘n vaardige skrywer.” Dit laat my onthou van my roeping as skrywer. Ek glo dat Hy my toerus en daarom skryf ek om Hom te eer en in die proses mense se harte vir Hom aan te raak. Dit is vir my deel van die groot opdrag om dissipels te maak.
Ek het Gesinstyd met God geskryf omdat ek voel dat ouers hulle plig en verantwoordelikheid om hulle kinders in die weë van die Here groot te maak met meer erns moet bejeën. God se seën rus op gesinne wat sy Woord saam bestudeer en Hom dien.
Voorverlede jaar het ek my ma, ‘n hartsboetie en ‘n geliefde oom binne die kort tydperk van drie maande aan die dood afgestaan. Deur Toevlug te skryf, het ek deur my verlies en rousmart gewerk en berusting en heling gevind, wetende dat God alles ten goede laat meewerk. Die gedagte dat ek my geliefdes eendag weer sal sien, bring ook vertroosting.
NB-M:
Jy is op ‘n wye front werksaam as vryskutwerker in die Suid-Afrikaanse boekbedryf, en bedien verskeie webwerwe, ook as rubriekskrywer en resensent en dan natuurlik die werk wat jy “agter die skerms” doen. Vertel gerus meer hiervan.
LV:
Dis voorwaar heerlik om elke dag doenig te wees met uitgewers, skrywers, boeke, en boekverwante dinge en dan ook daardeur my brood en botter vryskut te verdien. Nie alles wat ek doen, bring egter geld in nie. So skryf ek byvoorbeeld vir sekere publikasies sonder dat ek daarvoor betaal word, want ek ondersteun skrywers graag soos en waar ek kan.
Ek het baie ysters in die vuur. Die lekkerte daarvan is dat ek nou aan ‘n kinderboek kan help skaaf, later aan ‘n niefiksieboek en môre aan ‘n fiktiewe roman. Ek werk dus oor verskillende velde, genres en ouderdomme heen, enigiets van gedigte tot kortverhale tot feiteboeke en fiksie. Soms doen ek manuskripontwikkeling, dan redigeer, proeflees of vertaal ek weer of stel keurverslae op. Ek werk aanlyn saam met illustreerders, skrywers, uitgewers en bladuitlegkunstenaars en geniet die kreatiewe wisselwerking sommer baie. Ek is eintlik maar ‘n introvert, so, dit pas my uitstekend om agter die skerms te werk.
Verskeie uitgewers stuur vir my resensiekopieë. Ek het dus stapels leeswerk om deur te werk. Dit is tegelykertyd opwindend én oorweldigend. Dis lekker om my vinger so op die pols te mag hou van wat in die boekewêreld aangaan, veral omdat ek baie wyd lees – van boeke oor die natuur, sakewêreld en geskiedenis tot Romanzas en digbundels.
Ek wens net soms ek het meer tyd gehad om aan my eie skryfwerk te spandeer!
NB-M:
Vertel ons van jou geloof: Wanneer het jy tot dié insig gekom, en wat beteken – en behels – jou geloof vir jou op ‘n persoonlike, alledaagse vlak?
LV:
Ek het die volgende antwoord op ‘n soortgelyke vraag gegee toe Stefaans Coetzee met my ‘n onderhoud vir Litnet gevoer het: “Dit kom vir my natuurlik om na God te hardloop wanneer die lewe druk. Ek dink nie eens twee keer daaroor nie. Dis vir my ondenkbaar dat enige mens die uitdagings in sy of haar lewe sonder Hom sal wil probeer aanpak. Hoe trotseer jy lewenstorme wanneer jy nie tot Hom bid en deur Hom bemoedig word nie? Die vrede wat Hy jou gee, gaan inderdaad alle verstand te bowe. Daarmee saam kom vertroue en uiteindelik aanvaarding en berusting.”
My ma en ook my grootouers het my en my sibbe in die weë van die Here grootgemaak. Ek het dus van kleins af my Bybel gelees en gebid en Sondagskool toe gegaan. Maar daar was meer as een geleentheid in my lewe waar ek self ‘n keuse gemaak het om my hart vir die Here te gee.
My geloof is vir my baie belangrik. Ek luister graag saans of in die baie vroeë oggendure na Bybelvoorlesings, preke, gebede en aanbiddingsmusiek. Ons is so bevoorreg om toegang tot soveel geestelike materiaal en dinamiese predikers te hê. Dit verkwik my siel en laat my kans sien vir enigiets en alles.
Ek glo in die krag van gebed. Op ‘n daaglikse vlak beteken geloof vir my om te vertrou dat Hy my lewe in die holte van sy hand hou en ‘n doel daarmee het. Ek glo dat ons Jesus se hande en voete op aarde is en dus diensbaar moet wees.
Ek gesels die lekkerste met die Here wanneer ek buite in die natuur stap, hetsy op die strand, in ‘n woud of sommer in die veld. Ek loop sommer hardop en bid. Oor alles en nog wat.
NB-M:
Wat is jou grootste vrees – en begeerte?
LV:
My grootste begeerte is om my roeping as skrywer volkome uit te leef en nog dosyne boeke te skryf waarmee ek mense se harte vir Hom aanraak. Dit sal absoluut wonderlik wees indien een of meer van my boeke dalk verfilm kan word en sodoende selfs ‘n wyer gehoor, plaaslik en internasionaal, kan bereik.
My grootste vrees? Ons lees in Jesaja 41:10: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.” Ek bemoedig myself met dié vers wanneer die lewe soms druk en ek oor iets bekommerd voel.
NB-M:
Deel asseblief iets oor jouself met Die Boekboetiek wat niemand weet nie – en wat jy nog nooit tydens ‘n onderhoud genoem het nie.
LV:
Ek leef ‘n baie afgesonderde lewe. Regtig. My werk geskied meestal aanlyn en ek doen my ding op sosiale media. Maar in die regte lewe kan daar maklik ‘n maand verbygaan sonder dat ek fisies in lewende lyf (whatsapps, e-posse of oproepe dus uitgesluit) met ‘n ander persoon as my man (ook maar ‘n kluisenaar) gesels. Ek leef baie gemaklik in my eie kop en kom nie eens agter wanneer ek alleen is nie. Die kere wanneer ek wel sosiaal wil (of moet) verkeer, voel ek heel rustig daaroor en geniet dit. Maar dan keer ek weer dankbaar terug na my grot.
NB-M:
Wanneer het jy besef jy het skryftalent? Het jy mentors gehad wat jou aangemoedig het?
LV:
Ek het as baie jong kind ‘n skryfkompetisie gewen toe ek ‘n paar sinne geskryf het om by ‘n prentjie van ‘n kaggelvuur te pas. Die prys was ‘n Parker-pen. Net dáár het die skryfgogga my beetgepak. Dit was ook altyd lekker wanneer onderwysers ‘n opstel van my in die klas voorgelees het. My oupa kon weer stories op ‘n baie onderhoudende manier vertel. Hy het nooit stories geskryf nie, maar hy kon een uitdink en vertel. My ma was ook lief vir lees. Ek het dus in ‘n huis grootgeword waar dit vanselfsprekend was dat ‘n mens jou na boeke wend. Ons het nooit vakansies weggegaan nie, want Oupa het geglo jy slaap in jou eie bed. Ek het dus elke skoolvakansie omgelees. My oupa het my aangemoedig om te skryf. Ek en hy was baie erg oor mekaar.
NB-M:
Wie – of wat – is jou muse wanneer jy skryf?
LV:
My inspirasie is telkens die wete dat God die Groot Outeur is en dat Hy ‘n klein vonkie van sy kreatiwiteit aan my toevertrou het. Die besef dat ek deur my skryfwerk mense se harte kan aanraak, spoor my ook aan. ‘n Persoon het byvoorbeeld nadat hy Toevlug gelees het, my selfoonnommer iewers opgespoor en in trane vir my ‘n boodskap gestuur om dankie te sê vir die storie. Hy het kort vantevore sy vrou aan die dood afgestaan en Toevlug het baie van sy vrae en worstelinge aangespreek. Die wete dus dat mense, wat ek sekerlik nooit in lewende lywe sou ontmoet nie, ‘n boek van my lees en God se Vaderhart daardeur kan leer ken, is vir my uiters kosbaar.
NB-M:
Hoe benader jy die navorsing wat jy vir jou skryfwerk moet doen?
LV:
Met Gesinstyd met God het ek absoluut intuïtief geskryf. Ek het gebid, na aanbiddingsmusiek oor my oorfone geluister en my vingers het oor die sleutelbord gevlieg. Die een Bybelvers na die ander het my te binne geskiet en ek kon skaars byhou om te tik.
Met Toevlug het ek wel bietjie op die internet nagelees oor die Kongo se bloedige verlede. Ek het ook na ‘n YouTube-video of twee gekyk oor die magtige Kongorivier en watter tipe bote daarop vaar.
Ek is tans besig om my gedagtes agtermekaar te kry wat ‘n nuwe geestelike roman aanbetref. My konsepvoorstel is reeds by ‘n uitgewer en ek wag net om die groen lig te kry. Ná veral Toevlug se sukses sal ek behóórlik moet uithaal en sorg dat hierdie voornemende manuskrip aan hoë verwagtinge voldoen. Ek gaan dié keer meer intensief navorsing moet doen. Die agtergrond waarteen die verhaal gaan afspeel, is hartverskeurend, maar ek hoop dat die boek broodnodige lig op hierdie donker onderwerp sal laat val. Ek kan nie wag om tyd in te ruim om te begin skryf nie. Dalk is hiérdié storie die een wat verfilm sal word, wie weet?
NB-M:
Wat is die waardevolste stukkie raad – of wysheid – wat jy as skrywer ontvang, of geëien het, en sal jy dit asseblief met ons lesers en aspirant skrywers deel?
LV:
“Werk […] hard omdat julle aan Christus behoort en doen wat God van julle vra so goed julle kan. Julle werk mos nie eintlik vir mense nie, maar vir die Here. Laat dit straal uit alles wat julle doen.” (Ef. 6:7, DB)
Vervang die woord “werk” met “skryf” in bogenoemde vers. Laat jou skryfwerk ‘n dankoffer aan God wees. Bid voor jy begin skryf, bid terwyl jy skryf, en onthou om ná die tyd vir God dankie te sê vir sy hulp en leiding.
Wees trots op jou werk en versorg of laat versorg jou manuskrip so deeglik moontlik alvorens jy dit aan ‘n uitgewer stuur vir keuring.
NB-M:
Wat is vir jou die uitdagendste, én die maklikste, deel van jou skryfproses?
LV:
Die uitdagendste deel is om tyd in my baie besige skedule te vind om te skryf. Ek het beide Gesinstyd met God en Toevlug laataand en donkervroeg moes skryf wanneer die res van die wêreld slaap. Dit het baie selfdissipline geverg, maar dit was terselfdertyd vreeslik lekker om so alleen en ongesteurd te kon sit en werk. Bedags was my aandag by ander skrywers se werk.
Die maklikste deel van my skryfproses is dat die manuskrip sy eie loop neem. Ek hoef dus nie veel daaroor te dink of te beplan nie. Die oomblik as my vingers op die sleutelbord rus, begin ek tik en alles gebeur net vloeiend. Soos ek tik, skryf ek die storie klaar. Ek verander bittermin indien enigiets ná die tyd. Dit gebeur dan ook dat wanneer ek die boek vir die eerste keer lees, daar gedeeltes in is wat ek skaars herken omdat ek so diep vanuit my onderbewussyn geskryf het.
NB-M:
Kan jy asseblief ‘n lusmakertjie uit Toevlug aanhaal – ‘n stukkie met ons lesers deel?
LV:
Hier volg ‘n gedeelte (ble. 51-53) van Petro se vlugtog terug na Suid-Afrika nadat rebelle die sendingstasie wat sy en haar man in die Kongo-oerwoud begin het, aangeval het.
Hulle is uiteindelik op die oop see, sy en Ntoki. Hy het geroei tot hier maar nou kan hy dit waag om die bootjie met die buiteboordmotor aan te dryf.
Dit het hulle ure geneem om die kilometer of wat strand toe af te lê. Hulle moes behoedsaam digby donker hoekies hou en met tye selfs platval. Daar is bendes jonges wat, geweer oor die skouer, veglustig rondgaan en moeilikheid maak. Hulle skiet in die lug op, steek hutte en ander geboue vir die pret aan die brand en terroriseer die vreesbevange ongelukkiges wat hulle pad kruis.
Sy het gevoel hoe die histerie in haar wil losbreek toe sy die gewere en vlamme sien, maar Ntoki het haar dringend gewaarsku: “You scream, we die. Comprenez-vous? Understand?”
Sy het verstar geknik. Al wat haar verhoed het om inmekaar te stort, was die seker wete dat sy beslis vir sy dood verantwoordelik sal wees as hulle gevang sou word. En sy wil waaragtig nie nóg ’n dood op haar gewete hê nie. Hierdie man waag sy lewe vir haar, ’n onbekende wit vrou, ’n burger van ’n ver land. Die minste wat sy kan doen, is om haar kant te bring. Hy het moontlik ’n familie wat angstig op sy tuiskoms wag. Geliefdes oor wie hy hom moet ontferm.
Ntoki beduie diepsee toe. “We go to boat there on horizon. My … uh … uncle … he works in kitchen, oui? They go to Afrique du Sud. Deliver cargo.”
Sy knik moeg. Vir haar part kan hy haar maar net hier oorboord gooi en wegry in sy bootjie. Die see kan haar maar insluk. Watter doel of nut is daar dat sy nog lewe? Daar is niks en niemand vir haar in Suid-Afrika nie. Geen familie of vriende wat haar sal verwelkom nie. Selfs die nare kinderhuistannie is oorlede, of so het sy en Evert verneem toe hulle nog in Frankryk was. Nie sy of hy was jammer oor die tannie se heengaan nie. Die vrou was nie vir hulle ’n moeder nie. Inteendeel. Sy het uit haar pad gegaan om voor ander lief en dierbaar en godsdienstig voor te kom, maar agter geslote deur het sy in ’n geniepsige tiran verander wie se woord absoluut wet was. Wee jou as jy haar nie gehoorsaam het nie. Dan het jy vir dae lank nie kos gesien nie en het sy die ander kinders aangehits om te maak of jy nie bestaan nie.
Nee, sy wat Petro is, kan maar net hier in die donker dieptes van die see wegsink. Manloos en kinderloos. Vir ewig vergete en verlate.
Maar sê nou ’n walvis kom en sluk haar in soos vir Jona? Sê nou sy moet lewendig in die soogdier se maag sit vir drie dae en drie nagte voor hy haar weer uitspoeg? Wat help dit dan dat sy dood is net om weer lewend te word? Om van voor af weer te moet onthou dat Evert vir altyd en altyd weg is? Om van nuuts af die verskriklike leegheid in haar hart én haar lyf te moet voel?
Namibi se kleutergesiggie verskyn voor haar. So helder en lewensgetrou dat toe sy haar hand lig om aan die dogtertjie se mollige wangetjie te vat, sy net lug raakvat. Die storie van Jona in die vis se maag het die kind gefassineer. Sy kon nie genoeg kry daarvan nie en het beurtelings by oupa Yann en almal wat sy raakgeloop het, gesoebat om die storie tog net weer één keer vir haar te vertel.
Hoe kan ’n vis so groot wees dat hy ’n mán insluk? wou sy weet. Dit kan mos nie! Toe Petro vir haar ’n prentjie in die kinderbybel wys van Jona wat in die vis se maag sit, het sy gekraai van die lag en haar hande teen mekaar geklap dat haar armbande klingel. Sy het die prentjie met sorg nageteken, dit soos goud opgepas en vir almal wat sy teenkom, gewys asof sy ’n vreeslike groot geheim met hulle deel. En toe, so ‘n week voor die aanvalle, het sy haar kosbare tekening na Petro uitgehou. “Pour le bébé, Maîtresse. For the baby.”
Haar wat Petro is se Jonatjie het wel lewend uit die walvis se maag gekom, maar toe is hy voetjies en al deur die doderyk ingesluk. Hy sal nooit die prentjie sien wat Namibi vir hom as verwelkomingsgeskenk wou gee nie. Sy liggie het net sekondes lank die donker reënwoud verlig voor hy deur ’n groter, totale duisternis ingesluk is. Hy, babatjie alleen. Soos Moses in ’n biesiemandjie toegemessel, het hy ’n vlak graffie iewers in die middel van die Kongo-reënwoud gekry. Of so nie het hy weer in ’n maag beland. Dié keer dalk ’n aasdier s’n?
Sy kreun en wieg heen en weer in ’n onbewustelike poging om haarself te troos toe leed sy kloue verskeurend in haar hart inslaan. Die oseaan is mateloos wyd om haar. Nie so wyd soos die Heer se genade nie. So eindeloos soos die droefheid in haar binneste. Sy wil soos Jakob haar klere skeur en ’n roukleed om haar heupe bind en oor haar seun treur. Sy wil hartstogtelik oor haar man ween. Al treurende na hulle in die doderyk afdaal. Nie hier op ’n motorboot in die Atlantiese Oseaan die nag inspoed nie.
Sy is ’n onbeduidende ou spikkeltjie hier iewers tussen êrens en nêrens, maar uit haar groei ’n rankplant, ’n dorstige kruiper wat die hele aarde verstrengel. Die plant slaan haar tentakels in die grond in en delf diep, diep ondertoe. Dit tas hoopvol oor die skedels in vergane grafte. Kruis en dwars beweeg dit onder die aarde soos ’n honger mol. Rusteloos. Altyd soekend. Want iewers, iewers is haar geliefdes sonder haar.
En hulle bloed roep na haar.
En dan, ‘n paar bladsye later:
Die boot doem groot en donker voor hulle op. Ntoki grawe in die rugsak wat hy saamgebring het. Hy haal ’n flits en ’n pakkie wat in lap toegedraai is, uit, rig dit na die dek en skakel die lig ’n paar keer aan en af. Hy moet die proses ’n hele paar keer herhaal, maar dan is daar ’n antwoord van bakboord en ’n leer sak teen die romp af.
Ntoki gryp die leer vas en draai na haar. Sy tande glim wit in die donker. “I keep my promise. You go now, Madame.”
Sy skud haar kop ineens vreesbevange. Ntoki is haar laaste skakel met die Kongo. Wat lê vir haar voor op die boot? My lewe is verby. Job 17:11 kom by haar op: “Ek het geen planne of drome meer vir die toekoms nie.”
Notki lees haar gedagtes. Hy skud sy kop. “I cannot take you back.”
Vir ’n oomblik draai sy weg van hom af en kyk in die rigting van die vasteland. Daardie donker kol daar heel ver is die Kongo. Dis waar haar hart is. Haar huis. Dit sal vir haar beter wees om hier en nou oorboord te spring en haar oor te gee aan die rugknakkende gewig van die meulsteen om haar nek. Sy sal onmiddellik in die diep waters wegsink. En miskien, net miskien is daar die kans dat daar wel ’n hiernamaals is en dat sy daar ’n glimp van haar man en kind sal kry. Al sal sy hulle net van ver af kan sien omdat sy aan die ander kant van die kloof staan. Soos die ryk man wat gesterf het, begrawe is en sy oë in die doderyk opgehef het en vir Abraham en Lasarus daar ver sien staan het. En dalk sal dit ’n einde bring aan hierdie malende, chaotiese gedagtes wat haar rasend maak.
Ntoki wag geduldig dat sy kies – die lewe of die dood?
Die besluit word uit haar hande geneem toe ’n groot deining hulle bootjie kantel en sy na die leer moet gryp om haar balans te behou. Ntoki druk die pakkie by haar broeksak in. “Give to captain. Now go!”
Die volgende deining stoot die bootjie onder haar voete uit en sy hang aan die leer. Haar voete soek vanself vastrapplek en dan klim sy die leer sport vir sport.
Hier laat sy vir Petro agter, dink sy, want sy is dood al lewe sy.
Van nou af is sy Mara, die naam wat Naómi vir haarself gekies het toe sy in die lewe moes agterbly sonder haar man en seuns. Sy het in Rut gesê: “Noem my nie Naómi nie: noem my Mara, want die Almagtige het my baie bitterheid aangedoen. Vol het ek weggetrek, maar leeg het die HERE my laat terugkom.
Baie dankie vir ‘n heerlike onderhoud, Louise!
Dankie vir die voorreg, Nini.