Titel: Bonsaimeisies
Outeur: Erla Diedericks
Uitgewer: LAPA Uitgewers, 2025
Nini Bennett-Moll:
Hallo, Erla. Welkom by Boekboetiek – jy is ons eerste gas op dié inklusiewe nuwe boekforum en ons sal hierdie aanlyn onderhoud boekmerk as ‘n historiese een. Die skrywer, joernalis en mentor, Erla Diedericks, het geen bekendstelling nodig nie. Tog: Vertel asseblief vir die lesers wie is jy, waar kom jy vandaan, en wat is jou agtergrond. En deel met ons een van jou geheime: iets wat jy nog nooit voorheen in ‘n onderhoud genoem het nie.
Erla Diedericks:
Ek is ʼn komplekse introvert. Kreef-sterreteken. Aangeneem. Loner. Blondine met depressie, daddy issues en ʼn obsessie met Delft en katte. Groot hart. Ek kom van die Oos-Kaap en glo steeds ons is die beste mense – voete vas op die seebodem
met die kop so effens in die wolke. Hier is sommer DRIE geheime. Die eerste skryfwerk wat ek gepleeg het, was gedigte – getik op ʼn Remmington. Een van my gunstelingdosente was Daniel Hugo, en onder sy invloed en gemotiveer deur ʼn gebroke hart (dankie, Christo Claassen) het ek in my honneursjaar (Afrikaans-Nederlands) ingeskryf vir ʼn landwye digkompetisie vir universiteite en tweede gekom. Ek het ook al op vyfjarige ouderdom viool gespeel en as my professor sy sin kon kry, was ek vandag ʼn beroepsviolis.
O ja – ek is bang vir die donker.
NB-M:
Bonsaimeisies is jou jongste publikasie. Dit is ‘n rillerverhaal wat beskryf word as boeiende en poëties. Ek haal ‘n lusmakertjie uit die boek aan, soos wat jy op jou Facebook-muur gedeel het:
“Hoofstuk 1
Rosenhof is glad nie wat Ann verwag nie. Waar is die grasieuse gasteplaas wat Benedal se toerismeburo op hul glansbrosjure adverteer? Gehawende mure, die wit verf plek-plek afgedop, hou wag oor ’n swart stoep. Bome met gebuigde koppe prewel lang skadu’s van gebed oor die verdroogde grasperk. Die werf is doodstil. ’n Spreekwoordelike graf.
Ann skakel haar motor se enjin af. Langs haar word Maya stadig wakker. Sy strek haar bene uit so ver as wat sy kan en vryf haar rooi krulhare nog deurmekaarder. Dan sit sy haar voete, leerstewels en al, op die paneelbord. Sy kyk verdwaas rond na die verwaarloosde tuin, die beddings oorgeneem deur onkruid, die heuwel swart sakke langs die huis – vullis peulend uit geskeurde gate.
“Waar is ons? Moet asseblief nie vir my sê dis waar ons gaan bly nie.” Haar stem bewe effens. Deesdae raak die kind gou paniekbevange.
“Nee, darem nie. Ek moet net die sleutels vir die chalets hier kom afhaal.” Wat was die eienaar se naam nou weer? Ann kyk op haar selfoon. Paul Roos.
“Ek hoop die chalets lyk beter. Hierdie plek is scary.” Maya vou haar arms
beskermend om haar tingerige lyf.
Ann hoop en bid hierdie maand lange vakansie werk uit. Haar stiefdogter is al klaar so broos. Sy het liefde en aandag nodig ná die hele ding met Mike.”
Vertel ons gerus meer: waaroor handel die verhaal (in die breë), en waarom reken jy sal voornemende lesers die boek geniet?
ED:
Dit gaan oor ‘n forensiese psigiater, Ann Marais, wat saam met haar stiefdogter gaan vakansie hou in die fiktiewe dorpie Benedal, want sy is uitgebrand. Sy is egter skaars daar of ‘n vreemde dogtertjie probeer haar van die trappe afgooi en as sy in haar oud-kollega Mossie vasloop, vertel hy haar van ʼn reeksmoordenaar wat ʼn vreesaanjaende bewind in Benedal voer. Die Tuinier, soos die moordenaar genoem word, ontvoer, martel en vermoor agtienjarige meisies. Ann word gekonfronteer met haar donkerste vrese wanneer sy probeer keer dat haar agtienjarige stiefdogter nie volgende op die lys is nie en sy ʼn psigopatiese reeksmoordenaar en kenner op die gebied van marteling moet raadpleeg oor wie die Tuinier moontlik kan wees. Daar is trekke van Silence of the Lambs, dis spannend en daar is drie eindes waarvan die laaste een die mat onder die leser se voete sal uitruk.
NB-M:
Jy is ’n dinamiese en gewilde Afrikaanse skrywer, joernalis en rubriekskrywer met meer as 30 jaar se ondervinding in die mediawêreld. Jy deins ook nie terug vir kontroversiële temas nie, en is bekend vir jou vreeslose, soms gewaagde styl van skryf, wat temas soos liefde, geweld, erotika en die donker kompleksiteite van verhoudings ondersoek. Jou boeke is nie (altyd) op sensitiewe lesers afgestem nie – dit is werklikheidsgetrou en bevat elemente van spanning, kru taal, en die uitbeelding van die gebroke menslike kondisie. Vertel ons asseblief meer?
ED:
Ek dink nou weer glad nie ek skryf kontroversieel nie. Ek skryf oor werklike gebeure. Kontroversieel? Nee, eerder die harde realiteit waaroor mense nie graag praat nie: seksuele misdaad, huishoudelike geweld, die onderwêreld van dwelms, sekshandel, internet dating – daai klas van ding is deel van my lewe omdat ek ʼn joernalis is. Dis ook alledaags – wat meer verklap oor die zeitgeist as oor myself.
Die meeste mense sal wel my boeke kan hanteer – ek los die gruwelike
besonderhede altyd aan die leser se verbeelding oor en beskryf nooit in detail nie.
Kru taal?Ag nee man dis net f.. en dis ʼn goeie, kragtige Afrikaanse woord wat ʼn taalmonument van sy eie verdien.
Ook – erotika is so ʼn gelaaide woord. Aan die einde van die dag, is dit net
doodgewone seks. Weer eens – dis alledaags, ʼn feit van die lewe. Shit and sex
happens. Dis een van die redes waarom seks soms kop uitsteek in my spanningsromans. Nie net is dit ‘n onlosmaaklike deel van die menslike bestaan nie, seks word dan ook deur mense gebruik om die ander een mee te verlei, te manipuleer, te verneder, te beheer – om liefde mee te bewys, maar ook mag en afkeur. As skrywer gebruik ek dan ook soms seksuele gedrag (wat ek vas glo ʼn ware refleksie van ʼn mens se werklike natuur is) om my karakters se persoonlikhede en motivering mee uit te beeld.
Mense het seks. Punt en klaar. Op enige plek – selfs ook tussen die blaaie van ʼn boek.
NB-M:
Wat is jou beskouing rondom feminisme – en soortgelyke tematiek wat voorkom in jou oeuvre?
ED:
Ek is ʼn feminis. Kant en klaar (pun intended). Die vroue in my boeke is nie altyd perfek of slagoffers of selfs die perfekte slagoffer nie, maar hulle is altyd effe gebroke wesens (is ons almal nie maar nie) wat sterker is as wat hulle self besef. Hulle maak ʼn plan, hulle oorleef – soos wat elke vrou moet in ʼn oorwegend patriagale wêreld.
Ek voel dat hierdie hele skouerophalende houding van “boys will be boys” en “dis nou maar ʼn man vir jou daai” of “wat verwag jy, hy is ʼn man” of “that is what men are like”’ moet end kry. Hierdie gerieflike verskoning vir dikwels verfoeilike en gevaarlike manlike gedrag is een van die wortels van die kwaad. Mans moet verantwoordelik gehou word vir hul gedrag. En ʼn vrou wat aandring op haar regte en respek is nie soseer ʼn feminis as net ʼn vrou wat soos ʼn mens behandel wil word nie.
Ek self is mishandel in my huwelik en is ʼn kampvegter vir vroueregte en die
beskerming van vroue teen geweld.
NB-M:
Jy verstaan duidelik die waarde van (self)bemarking, en wat ‘n outeur se rol is om op sosiale en digitale vlak ‘n sigbare voetspoor te laat sodat lesers deeglik kennis neem van ‘n nuwe publikasie. Jy is in dié verband ‘n rolmodel vir ander skrywers – bemark jou boek! Vertel ons gerus meer.
ED:
Een van my vele vryskutberoepe is dié van sosiale bemarker, dis wat ek doen.
Bemarking is vir my broodnodig en ek het geen probleem om my boeke te bemark nie. As mense dink ek blaas my eie beuel en is vol van myself – ag asseblief – almal weet al teen die tyd ek is in elk geval vol koffie en k*k. Ek sien my loopbaan as skrywer as ʼn maatskappy waarvan ek die produk is. Ek moet die produk verkoop. Die skrywer Erla is ook een van daardie produkte en is nie die regte Erla nie.
NB-M:
Jy bied ook mentorskapprogramme vir aspirant-skrywers aan. Vertel ons meer?
ED:
Die mentorskap is vir gevestigde skrywers wat ʼn muse in lewende lywe soek wat ʼn tweede oog sowel as hul gewete is. Ek bied wel ʼn skryfkursus aan wat eerder ʼn cheater’s guide to writing is as teorie. Ek doen ook manuskripontwikkeling. Ek is besig om ʼn goeie rekord op te bou van aanvaarde manuskripte en kortverhale.
N-BM:
Wie – en/of wat is die inspirasie in jou skryfproses?
ED:
Ek is my eie muse en inspirasie. Wat wel die skryfwerk aanhelp, is ʼn fantastiese uitsig, verkieslik die see of wye oop vlaktes. My skryfgeselle is twee katte – Flabiani en Milly en ek het darem ʼn mooi tuin waarna ek kan staar.
NB-M:
Jy dra baie hoede; só is jy onder meer ook ‘n gewilde rubriekskrywer. Maar wat geniet jy persoonlik die meeste, kreatiewe skryfkuns of joernalistiek?
ED:
Ek leef vir skryf. Ek is beslis verslaaf daaraan en sal my siel daarvoor verkoop. Joernalistiek is my eerste en enigste beroep, maar wel my tweede liefde. Interessante feit: Ek skryf al rubrieke vandat ek 23 jaar oud is, en het daarmee begin by Beeld. Ek het ook al rubrieke geskryf vir Sunday Times, Playboy, Femina, Fairlady, Rooi Rose en Sarie.
NB-M:
As jy nie ‘n skrywer en joernalis was nie, wat se loopbaan sou jy wou volg? Ons almal weet om te skryf in SA is nie lonend nie. Wat is jou loopbaan-alter-ego?
ED:
Ek droom daarvan om ʼn rock ster te wees – vol talent, dwelms, seks en die
uitgestorte drange van mans. Ek sal passievol in vlamme opgaan; dood teen 27.
NB-M:
Watter skrywers bewonder jy?
ED:
Eerder boeke as skrywers. André le Roux du Toit se Somer II, André Le Roux se Sleep vir jou ʼn stoel nader, Griet Skryf ʼn Sprokie, Marita van der Vyver,
Terry Pratchett se Disc World Reeks, SwitchBitch deur Roald Dahl,
André P. Brink’s Kennis van die aand, Riana Scheepers se kortverhale,
Joanne Harris, Lianne Moriarty, Perfume deur Patrick Süskind, The Gargoyle deur Andrew Davidson, The Shining deur Steven King, Chocolat deur Joanne Harris, The Garden of Eden, Ernest Hemingway.
NB-M:
Hoe hanteer jy lof en/of kritiek op jou werk?
ED:
Ek vat lof en kritiek van wie dit kom. Ek glo en waardeer die lesers se lof. Baie keer gee mense jou net komplimente omdat hulle iets verlang. Dieselfde met kritiek. Hoe hanteer ek dit? Ek vloek en skree en gooi ʼn verskriklike tantrum en dan huil ek – maar sulke harde snikke. Daarna sulk ek vir ʼn periode, en uiteindelik, na sewentig jaar, hou ek op om wraak te beplan en gaan ek weer aan met my lewe.
NB-M:
Werk jy op die oomblik aan ‘n nuwe boek? Waarna kan die lesers volgende uitsien?
ED:
Ek werk aan ʼn spanningsroman oor ʼn reeksmoordenaar wat sy slagoffers op aanlyn liefdesoekwebwerwe vind. Die tema is wanhoop, eensaamheid en die desperate soektog na liefde en erkenning in ʼn toenemende digitale wêreld en hoe psigopate
daarop prooi. Die boek volg die lewe van drie vroue wat elk om hul eie redes
betrokke raak by liefdesoekkwebwerwe. Dit belig egter ook die slagoffers – dié vroue wat hul lewe op die spel sal plaas vir liefde.
NB-M:
Baie dankie vir ‘n heerlike onderhoud, Erla!