Noor
Ek gelei haar in die liggebed van water
en die selestiële mantras van ’n wolk
wat kumuleer verby die nawêreld se gloed.
As ek myself in die Imaan se kring verdamp
en so my liggaam tussen bedevaarders werp
om die kortstondigheid van lewe te ervaar;
die wierook van ’n dieper aura te herken
en stil te word in hierdie almag van Allah;
verruk my ousiel in die flitse van haar waas.
Sy is die lig waarna my labirinte soek
en in die eenwording van dag en materie
word al my binne-are tydelik en broos
binne die soetlug van ’n ryp geplukte vrug
wat in ’n meditasie van Adonis dool
dat ek, die serafyn, ’n ver duduk hoor treur
in oorbodes van aasvoëls oor my leë land
al bo die een ontspronge oë van ’n fontein
as hulle uit ’n burka na my staar
- Mellet Moll
- 2 April 2014