Donkerwerk
(Vir Mellet)
dat ek jou liefhet, ’n mededeling in die skemer
opreg, ’n kind wat op sy erewoord sweer
en dwingend, ’n ou mens wat in hoofletters skrywe
dat ek jou liefhet, vertroulik soos ’n vuurhoutjie
wat bakhand vonk en die vlam verdeel tot ek jou
gesig herroep in die maagdelike gloed van ’n kers
dat ek ’n alleenloper is soos jy
en dat ek jou liefhet, sodat ons saam
alleen kan wees
dat ek jou weggaan vrees, die meervoudige
eensaamheid van spieëls, die stil uitroep
van rimpelings in water
dat ek jou liefhet
my skaduwee, my donker kameraad
my beskermer en my bedreiger
dat ek jou liefhet soos die getuie van ’n visioen
of die geheim van ’n telefoonhokkie, die rugkant
van gesprekke skugter vorentoe gebuig:
om na jou te verlang
is om na die verlange self te verlang
- Nini Bennett
- Donkerwerk, 2019