Tumelo woon saam met sy ouers en twee sussies in ʼn township naby Rosendal. Sy ma werk by ʼn gastehuis in die dorp, maar sy pa het sy werk as tuinier verloor en lê nou bedags by die huis en drink. Op ʼn dag vind Tumelo ʼn beseerde swaeltjie in die pad. Sy ma wys hom hoe om die voëltjie te voer en Tumelo hou hom veilig in ʼn boks.
Maar dan slaan die noodlot toe. Tumelo-hulle se lewe stort ineen toe sy ma sterf. Hy moet skielik alleen ʼn hele huishouding behartig, want een oggend is sy pa weg – glo Johannesburg toe. Tumelo besluit om hom te gaan soek, maar sy sussie Dikeledi en die beseerde swaeltjie kom saam. Skielik begin Tumelo se lot ooreenstem met dié van die beseerde swaeltjie.
In Johannesburg word die twee kinders dadelik beroof en elke dag lyk dit asof die noodlot sy finale slag gaan toedien, maar deur die goedheid van ander kom daar telkens hulp uit onverwagse oorde. Ontberings wat vir kinders soos Tumelo en Dikeledi vantevore ondenkbaar was, moet trotseer word. Uiteindelik seëvier Ubuntu, maar nie sonder dat die lewe sy letsels op die twee kinders gelaat het nie. Wanneer die beseerde swaeltjie wegvlieg, is dit simbolies van die deurbraak wat die twee jong kinders tydens hulle groot onderneming gemaak het.
As klasleesboek kan Die seun met die swaeltjie ten sterkste aanbeveel word. Die temas van armoede, kinders wat aan die hoof van families staan, toestande in townships, drankmisbruik, maar ook medemenslikheid, deursettingsvermoë en naasteliefde maak die boek uiters relevant vir jong lesers.
© Marlies Taljard
Titel: Die seun met die swaeltjie
Outeur: Fanie Viljoen
Uitgewer: LAPA, 2026


Reviews
There are no reviews yet.