Sy akademiese reis neem hom oor internasionale grense: eers na Duitsland, waar hy sy meestersgraad met ’n beurs van die sagtewaremaatskappy SAP voltooi, en later na Switserland, waar hy in 2013 sy doktorsgraad in rekenaarwetenskap aan die wêreldbekende ETH Zürich verwerf. Ná sy troue in 2013 het hy en sy vrou vir meer as ’n jaar in Engeland gebly en gewerk (onderskeidelik in Cambridge en by University College London). Hoewel hy ’n gesogte Marie Curie-beurs vir postdoktorale navorsing ontvang het, het hy besluit om dit nie aan te tree nie en eerder terug te keer na Zürich, waar hy tot vandag toe as sagteware-ontwikkelaar bedrywig is.
Te midde van hierdie streng logiese wêreld van kodes en wiskunde, vind Stephan sy balans in die kreatiewe en natuurlike sfeer. Hy en sy vrou het drie kinders – Heidi (2017), Lisa (2019) en Ben (2021) – met wie hy graag tyd in die natuur deurbring. Hy is ’n kranige tuinier wat verkies om met sy eie hande in die grond te delf, waar hy die jaarlikse siklus van ontwaak, groei, oes en rus telkens met nuwe vreugde ervaar.
Stephan beskryf homself as iemand wat alles wat mooi, uitnemend en roerend is waardeer – of dit nou te vinde is in die wetenskap, kuns, filosofie, literatuur, musiek of die mens self. Hy hou baie van skeppende en kreatiewe aktiwiteite, maar hy heg terselfdertyd groot waarde aan die kuns van rus, ontspanning, en om bloot “te wees”. Met sy voete op die Switserse grond en sy hart steeds stewig veranker in die Afrikaanse taal, bring hy hierdie unieke wisselwerking tussen intellek en emosie na sy skeppende werk.
2
Om ’n debuutdigbundel te bespreek of te resenseer, is altyd soos ’n verrassingspakkie: jy weet nie wat om te verwag nie. Soveel te meer as dit ’n selfpublikasie is. Toe ek onlangs ’n e-pos van dr Stephan van Staden ontvang het, was ek opreg nuuskierig. En met goeie rede.
Ek het die boekpakkie met groot verwagting oopgeskeur en gemerk: die ongewone hardebandomslag met die kleurryke grafika herinner eerder aan dié van ’n roman. Hier is duidelik ’n digter wat buite die boks dink.
En toe begin ek lees. Ek het dadelik besef hier is ’n verfrissende debuut deur ’n digter wat absoluut sy eie ding doen, en basta met die res. Ek het nog gedink hoe literatore gaan skarrel om Van Staden binne die literatuurtradisie te plaas, te vergelyk met die verwagtingshorison van die dag…maar hy en sy gevolg ken die geheim: die sukses van sy bundel lê die vermaaklikheidswaarde daarvan. Poësie is baie dinge. Dit is deel van literêre en kulturele erfenis wat bewaar (moet) word. Dit het ’n sekere terapeutiese waarde vir lesers. Dit vorm deel van ’n internasionele en transtalige vertaalskat. Dit skep intellektuele diskoers. En so kan ’n mens aangaan. Maar wat die meeste mense buite rekening laat, is dat poësie vermaak ook. Binne onderrigverband is een van my gunsteling bundels (wat vermaak), Pret met poësie, saamgestel deur Adinda L. Cillié (2008), wat al talle herdrukke beleef het. Cillié breek weg van die vervelige “voorgeskrewe skoolgedigte”, en maak die lees van poësie vir leerders werklik lekker.
Van Staden se bundel is afgestem op ‘n breë lesersgehoor. Die templaat wat hy volg, is losweg omdigtings van bekende Afrikaanse gedigte, liedjies en kultuurgoed, soos die Ou Vlaglied. Laasgenoemde word gevolg deur ’n kommentaar, wat in literêre terme ’n vorm van metatekstuele kommentaar vorm op die voorafgaande omdigting. Die gedigte is oorwegend lig, geestig, satiries, spottend of (self-)ironiserend (by tye ook ernstig); uit die kommentare is dit duidelik dat die digter ook goed onderrig is in die digterlike vakmanskap van poësie, bv vaste versvorme, rymskemas, e.d.m.
Van Staden is een van daardie gentlemen wat hulde bring aan sy mentors – en dis ’n edele gebaar. In hierdie geval is dit Juffrou Sonja Pieterse, wat hom as jong kind aangemoedig het om te lees en te skryf en as bron van inspirasie vir hierdie bundel gedien het.
Die vermaaklikheidswaarde van die bundel is soos gesellige meditasies, gesprekke en anekdotes oor poësie oor ’n glas wyn, of in ’n knus kofffiewinkel. Wat lees jy in so-en-so gedig? Nee, ek verstaan dit só. Ja, dít was my inspirasie om die gedig te skryf…Ek persoonlik dink dit is hoe die meeste mense poësie beleef. Op ’n persoonlike manier. Dis waarom onderhoude gewilde leesstof is. En waarom mense boekgeprekke bywoon: hulle wil die skrywer persoonlik hoor. Nie (noodwendig) ’n akademiese lesing van ’n bundel lees nie – alhoewel laasgenoemde uiteraard noodsaaklik is en ’n belangrike plek beklee.
Van Staden span die net met sy metatekstuele kommentaar baie wyd. Hy het ’n ruim (en soms erudiete) algemene kennis, maar verswaar nie die leser daarmee nie. (Hy is, na alles, ’n intellektueel en akademiese reus wat die guns van die wêreld se top universiteite het.) In stede hiervan verkies hy ’n ander benadering; hy gebruik sy algemene kennis en wysheid om ’n genietlike smorgasbord van digdinge voor te berei.
Digters is stigters mag maar op sy eiesoortigheid roem. Dis ’n luukse boek. Waar ander mens ruik aan ’n boek, bevoel ek ’n boek. (Ek’s meer van ’n taktiele mens.) En ek het lank gestreel oor sterk hardeband-omslag (met al die e-boeke voel dit lekker outyds), en die plakkertjie voor in: handgemaak. Die boek is inderdaad keurig gemaak; die papier dun, glad, en sterk, amper ’n stralende wit; die stikwerk egalig, en die grafika straal ’n jeugdigheid uit. Boeke het aura’s, en dié boek het ’n jeugdige aura.
Inhoudelik lees die poësie en kommentare soos ’n siklorama of voëlvlug oor die Afrikaanse poësie, oud en nuut, sónder die leser se intellektuele vermoeienis van soekenjins, KI en woordeboeke om sin te probeer maak uit die een of ander slimjan se bundel. Dis daar om te geniet. ’n Mens kan sien baie van Van Staden se werk is impromptu geskryf – en om só te skryf, lewer lekker dinge op. Spontaan, onpretensieus. Maar moenie die bundel vlak kyk nie. Dis besonder interessant: dit voel of jy ’n voyeur is wat deur die digter se ou kladboeke, intieme dagboeke en studienotas by gedigte blaai. Het jy al digbundels by tweedehandse boekwinkels gekoop en die potloodaantekeninge gelees? Hoe ’n student byvoorbeeld gewroeg het met ’n gedig van Breyten? Ek vind hierdie notas baie interessant, ontboesemend en diep menslik.
Van Staden is goed bekend met intertekstualiteit; ’n spel wat hy aanknoop deur twee, selfs drie gedigte gelyk in een omdigting te gebruik.
Enkele voorbeelde: Op p. 24, met “Die ou man en die see” is dit H.A. Fagan se sonnet, “Ek het ’n huisie by die see” wat saamgesels met Ernest Hemingway se “The old man and the sea” en so ’n nuwe sonnet vorm. “Huisie by die see” (p. 26), wat uitspeel in ’n moderne konteks, vorm weer ’n skreeusnaakse parodie.
In “Orgideeskou” (pp. 73-75), ’n omdigting waarin Opperman se “Sproeireën” as inspirasie dien, haal die digter ’n speserykoekresep, wat sy ouma Leonora graag gebak het, aan soos dit verskyn het in ’n 1939-uitgawe van Die Brandwag.
Van Staden maak ook ruim gebruik van oorsese digters en kie wat op polifoniese wyse saamgesels in die bundel, hetsy deur rym, metrum, tematiek of wat watter innoverende wyse ook al, en soos die digter aandui in sy kommentare.
Hier is ’n bundel wat die digterskorset losmaak en jou laat asemhaal – en onthou: een van die funksies, wat so dikwels deur die letterkunde verwaarloos word, is om poësie te geniet. Bestel jou kopie vandag nog.
© Nini Bennett-Moll
Titel: Digters is stigters ’n Honderd en enkele gedigte
Digter: Stephan van Staden
Uitgewer: Onafhanklik (selfgepubliseer deur outeur)
Drukker en Verspreider (SA): Groep 7 Drukkers en Uitgewers
Beskikbaarheid: In SA by Groep 7 Drukkers se aanlyn winkel as hardeband en sagteband. Internasionale lesers kan hardeband en sagteband weergawes bestel by Amazon, Barnes & Noble, ensovoorts. Die e-boek en oudioboek is gratis op Google Play (e-boek, oudioboek) en Apple Books (e-boek, oudioboek)



Reviews
There are no reviews yet.