Die skrywer, Rebecca Maughan-Brown het Meestersgrade in maatskaplike werk en openbare gesondheid aan die Tulane Universiteit in Louisiana (VSA) behaal. Sy is ‘n moeder en die skrywer van My Feelings Journal, ‘n boek wat sy geskryf het vir haar dogter Louisa om haar eie emosies beter te verstaan.
Ek is nou wel nie ‘n laerskoolleerder nie, maar moet bieg: Ek het My gevoelensdagboek baie geniet. As interaktiewe gids, waar Maughan-Brown as ‘n tipe ‘teksterapeut’ optree, beskik die boek oor heelwat blanko bladsye waarop die jong leser sy of haar emosies kan neerpen. Die boek werk só: Jy kan vir 40 dae jou emosies in woorde, kleure en prente uitdruk. Jy kan ook neerskryf waarvoor jy dankbaar is.
Die doel van die boek of gids is om dit jou vriend te maak. Nie net leer dié gids jou om jou emosies reg uit te druk en te verstaan nie, maar ook om deur krisisse te groei. Daar is byvoorbeeld ‘n gevoelens-kas en dis pret om emosies te teken.
Jou liggaam help jou voorts om jou gevoelens te ervaar en te verstaan; so ook word gevoelens gekoppel aan onderskeie kleure. ‘n Belangrike faset van die boek is die opteken van dankbaarheid, daagliks – daar is altyd iets om voor dankbaar te wees. Ná 40 dae leer die kind van roetine, mantras, beweging, bewustheid (soos asemhaling, meditasie en ontspanningsoefeninge). Daar is ook gelukswensings in die boek, as die kind sekere oefeninge voltooi het.
Hierdie is sonder twyfel ‘n moet-hê vir ‘n jong kind wat sukkel met emosionele probleme, of bloot net op ‘n prettige manier wil leer hoe om emosioneel te groei of om die diepgang en skakerings van verskillende gevoelens te verstaan.
© Nini Bennett-Moll
Titel: My gevoelensdagboek
Outeur: Rebecca Maughan-Brown
Uitgewer: Penguin Books


Reviews
There are no reviews yet.