In plaas van dagstukkies wat die leser veronderstel is om getrou elke dag te lees, gee hierdie joernaal die leser ruim geleentheid om eenmaal per week tyd te maak om tot besinning te kom en tyd vir God te maak. Omdat die joernaal geen datums bevat nie, kan dit enige tyd begin word en maak dit nie saak as die leser tred verloor in besige tye nie. Elke stuk is 3-4 bladsye lank. Dit is gestruktureer rondom ʼn Bybelvers wat dan binne die hedendaagse konteks geplaas word en ʼn gebed.
Ek het die stukke verrykend en betekenisvol gevind en kon die besinnings op my eie lewe toepas. Hoewel die boek vir vroue bedoel is, het ek gevind dat dit meestal op die moderne mens as sodanig gerig is. Die eerlike, eenvoudige styl het my beïndruk.
Die skrywer skryf sonder omhaal van woorde. Hoofpunte word ten slotte kortliks en verstaanbaar uitgelig. Sommige stukke is in verskeie hoofpunte verdeel, terwyl ander van ander struktureringsbeginsels gebruikmaak. Hierdie werkwyse werk verveling teë.
Die boek is inderdaad pragtig uitgegee met ʼn kleurvolle, stewige buiteblad en is gedruk op hoëkwaliteit papier. Die boekmerk is ʼn verdere pluspunt. Die uitleg is keurig gedoen en die boek as geheel maak ʼn smaakvolle indruk.
Walk is die ideale geskenk vir ʼn vriendin.
© Marlies Taljard
Titel: Walk: A 52-week devotional journey for women
Outeur: Nande Boss
Uitgewer: LAPA, 2026.


Reviews
There are no reviews yet.