Die Boekboetiek

,

Skermslim: ’n gids vir veilig speel in die digitale ruimte

In ’n tyd waarin kinders al hoe vroeër selfone in die hande kry en KI-gereedskap soos ChatGPT en karakter-KI’s deel word van hul daaglikse speeltyd, is Skermslim nie net nog ’n ouerboek nie — dit is ’n broodnodige, tydige en uiters praktiese gids vir ouers, opvoeders én die amper-tieners self.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Cockcroft en van Van Aardt slaag daarin om ’n komplekse en soms skrikwekkende onderwerp — die gevare en geleenthede van die digitale wêreld — op ’n toeganklike en warm manier aan te bied, en om die valkuil van pedanterie te vermy. Die boek het ook ’n heerlike look & feel – die kladpapier skep ‘n ouwêreldse gevoel, terwyl die taalgebruik weerklink in dié van tieners in 2026. Die gids is hipermodern geïllustreer, met QR-kodes wat die lesers neem na prettige aktiwiteite om tuis te doen. Die KI-bot, Nova, help die skrywer om hierdie boek te skryf – en die hoofstukke ontvou met Cockcroft wat skouer-aan-skouer met haar bot hierdie verkwiklike gids vir die lesers, amper-tieners, saamstel.

Laasgenoemde ouderdomsgroep staan op die drumpel van tienerwees: daardie kwesbare 9- tot 13-jariges wat nuuskierig, sosiaal en dikwels naïef is oor hoe die aanlyn wêreld werklik werk.

Die boek behandel sleutelonderwerpe soos die risiko’s van die sosiale media, insluitend kletsgroepe en publikasiekettings; die risiko’s van aanlyn speletjies, byvoorbeeld katvisse, kuberskurke en sluipjagters; hoe om KI-gereedskap verstandig en krities te gebruik; en die verskil tussen pret en verslawing, om enkeles te noem.

Wat die boek besonders maak, is die kombinasie van wetenskaplike insig, werklike gevallestudies en praktiese raad vir die jong lesers. Dit is nie ’n bangmaakboek nie, maar ’n bemagtigingsboek. Dit leer kinders om nie net veilig te bly nie, maar om slim, kreatief en selfversekerd hul weg in die digitale ruimte te navigeer.

Waarom is hierdie boek so belangrik? Ons leef in die eerste generasie waar kinders se sosiale lewe, selfbeeld en selfs identiteit grootliks op skerms (swartspieëls) gevorm word. Studies wys dat baie kinders reeds voor graad 6 blootgestel word aan kuberboeliegedrag, onfatsoenlike digitale inhoud en manipulerende algoritmes. Skermslim vul ’n kritieke gaping in die mark: daar is baie boeke vir tieners en die ouers van adolessente, maar min wat spesifiek die oorgangsfase van ‘n “groot kind” na ‘n “jong tiener” met soveel begrip en kundigheid hanteer. Agter in die boek verskyn ‘n uitgebreide woordelys van IT-begrippe – en wat die boek uniek maak, is die gebruik van rekenaarbegrippe in die korrekte Afrikaans.

Estée Cockcroft en Christine van Aarde verenig hul professionele ervaring met ’n passie vir jong kinders in dié gids. Die resultaat is ’n boek wat ouers nie skuldig laat voel omdat hulle kinders in die digitale ruim rondkerjakker nie, maar toegerus en hoopvol laat.

As jy ’n ouer, onderwyser, berader of selfs ’n tante/oom is wat omgee vir die kinders in jou lewe, is Skermslim verpligte leesstof. Dit behoort in elke skoolbiblioteek, ouervereniging se boekrak en gesin se bedkassie te wees.

In ’n wêreld wat al hoe meer digitaal is, is dit nie meer ’n luukse om “skermslim” te wees nie — dit is noodsaaklik vir ons kinders se veiligheid, geluk en toekoms.

© Nini Bennett-Moll

Titel: Skermslim: ’n gids vir veilig speel in die digitale ruimte

Outeur: Estée Cockroft, illustreerder: Christine van Aardt

Uitgewer: LAPA, 2026

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Skermslim: ’n gids vir veilig speel in die digitale ruimte”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top