In ’n land wat reeds bekend is vir sy buitengewone plantdiversiteit, staan die Kaapse floraryk (fynbos) uit as een van die ses mees indrukwekkende blommeryke op aarde. John Manning en Dee Snijman, twee van Suid-Afrika se voorste botani en spesialiste in dié streek se flaura, lewer met Bulbs of the Fynbos ’n welkome bydrae tot die groeiende reeks fynbosveldgidse. Met meer as 1 200 natuurlike bolspesies, is die Kaapse Florastreek die onbetwiste bolplanthoofstad van die wêreld, en die bron van baie spesies wat nou in ander dele van die wêreld groei, insluitend Europa, die VK en die VSA.
Die boek fokus op bolplante – wat van die mees dramatiese en kleurvolle blomvertonings in die fynbosgebiede oplewer. In botanie verwys “bulbs” of bolplante na ’n spesifieke tipe ondergrondse stoororgaan wat plante gebruik om voedingstowwe en water op te gaar. Dit help die plant om te oorleef deur droë seisoene, brande of koue periodes, en dan in die regte seisoen vinnig te groei en te blom.
Die gids dek 345 van die meer algemene, opvallende en soms unieke spesies, wat ’n goeie verteenwoordiging gee van die ongelooflike diversiteit in families soos Iridaceae (irisse en gladioli), Amaryllidaceae, Hyacinthaceae en vele ander.
Die gids bied ’n praktiese kategorisering van die plante. Spesies word in groepe en subgroepe verdeel wat identifikasie makliker maak vir veldgebruikers, eerder as ’n streng taksonomiese volgorde. Dit is ideaal vir stappers, natuurliefhebbers, tuiniers, studente en leerders, en estete en poëte. Verskoon die rym, liewe leser, maar inderdaad: digters en ander liefhebbers van estetika sal óók baat vind by die boek, juis omdat dit so mooi en poëties is.
Soos mens kan verwag van Manning en Snijman (en Penguin/Struik Nature), is die boek pragtig geïllustreer met hoëgehalte kleurfoto’s en anatomiese sketse wat die diagnostiese kenmerke van die bolplante duidelik uitwys. Daar is ook handige glossaria in die gids.
Die boek begin met ’n interessante inleiding oor die biologie, morfologie, bestuiwing, ekologie, habitat, blomtye en bewaringstatus van fynbosbolplante. Dit help lesers om nie net spesies te herken nie, maar ook te verstaan waarom hulle spesifiek by die fynbos aangepas is.
Die gids is wetenskaplik akkuraat sonder om te akademies te word – perfek vir die ernstige amateur sowel as studente. Dit is ’n veldgids, nie ’n volledige ensiklopedie nie. Die risiko van so gids is inderdaad dat dit in akademiese pedanterie kan vervaag, of elke blombeskrywing voel soos ’n les in botanie. Nee, die samestellers het net die noodsaaklike inligting, bondig saamgevat vergesel van helder foto’s, gebruik.
Bulbs of the Fynbos is ’n moet-hê vir enige iemand wat die Weskaap se berge, vlaktes en kusgebiede verken. Dit vul Manning se vorige suksesse (byvoorbeeld Field Guide to Fynbos, Proteas of the Fynbos, ensovoort) pragtig aan en beklemtoon weer waarom die Kaapse bolplante van die rykste en mooiste ter wêreld is.
Koop dit saam met jou stapstewels en ’n goeie kamera – jy sal nie spyt wees nie. Dit is ’n belangrike toevoeging tot die Suid-Afrikaanse botaniese literatuur en ’n viering van een van ons kosbaarste natuurerfenisse.
© Nini Bennett-Moll
Titel: Bulbs of the fynbos
Samestellers: John Manning & Dee Snijman
Uitgewer: Struik Nature (Penguin), 2026


Reviews
There are no reviews yet.