Rocket’s red glare is ʼn militêre riller. ‘n Elite, hoogs geklassifiseerde binnelandse reaksie-eenheid bekend as Rocket’s red glare, wat uit voormalige Spesiale Magte-operateurs bestaan, word tydens ʼn Amerikaanse presidentsverkiesing op die been gebring. Wanneer ‘n presidensiële kandidaat vermoor word, breek openbare wanorde uit. Onder leiding van Nat Phillips word die span ontplooi. Hulle soektog na die moordenaar lewer egter verreikende inligting op en dui op ʼn sameswering wat daarop gemik is om Amerika te destabiliseer.
Patterson se enigmatiese styl kenmerk hierdie riller. Dit is ʼn aksie-gelaaide roman waarvan die storielyn vinnig en dramaties ontplooi en wat maklik lees. Die gebeure speel in verskillende wêrelddele af, vanaf die Midde-Ooste tot in Washington DC. Die karakters is tipiese Amerikaanse spesmagte wat geen bang haar op hulle koppe het nie, maar oortuig nogtans, onder andere danksy die medewerking van Matt Eversman. Eversmann is bekend vir sy heldhaftige optrede tydens die 1993 Slag van Mogadisjoe in Somalië wat ook verewig is in Mark Bowden se Black Hawk Down en Ridley Scott se daaropvolgende 2001-lokettrefferfliek.
Toe ek eers ingelees was, kon ek hierdie boek nie neersit nie. Dit is ʼn treffer wat die leser se aandag gevange hou en ʼn moet-lees vir lesers wat in die Amerikaanse politiek en Midde-Oosterse konflik belangstel.
© Marlies Taljard
Titel: Rocket’s red glare
Outeur: James Patterson & Matt Eversmann
Uitgewer: Penguin, 2026


Reviews
There are no reviews yet.