Visser het bekendheid verwerf met sy debuutdigbundel, Die jaar toe Pa…(2019), wat wyd geloof is vir sy onopgesmuktheid en woordekonomie, ‘n bundel wat met ‘n wye lesersgehoor resoneer. Dié debuut het ook talle herdrukke beleef.
En nou is Visser terug met tussen asem wat pas by Naledi verskyn het. In die blakerteks loof kritici Visser se tweede as die “konkrete gestalte tussen geboorte en dood, verlies en herinnering, humor en rou” (Alwyn Roux). Clinton V. du Plessis noem dit ’n treffende bundel; ’n priemende digtersblik op ‘n vervloë era en leefwyse, ontslape vriende en familie, asook die ongelykhede van die verlede. René Bohnen takseer die bundel as die klein, alledaagse oomblikke wat uitbloei tot gedigte oor tyd en verganklikheid.
Tematies handel die gedigte oor jeugherinneringe, vriende, kennisse, die vaderfiguur (soos in Die jaar toe Pa…), oor filosofiese kwessies, die dood, die natuur, Lourens Oosthuizen, ens.
Visser maak gebruik van narratiewe poësie en die trant is boeiend. Die sentrale metafoor, asem, dui op die broosheid van die lewe, vandaar (ook) die gedigte wat oor hospitale en siek/sterwende mense handel.
Die bundel is verdeel in drie dele, te wete “Eerste asem”, “Asemhaal” en “Laaste asem”; ‘n parodie op Prediker 3 (elke ding het sy vaste tyd) vorm die spil waarom die verse draai.
Die parlandostyl (praatpoësie) skep geloofwaardigheid, egtheid en gee ‘n gevoel van outentisiteit aan die gedigte.
Die allure van tussen asem lê in die nostalgie; die brutaal eerlike verwoording van o.m. herinneringe. Tussen asem lê immers die ongesêde, die stiltes, die ellipse, die vergestalting van dít wat was – ‘n rekonstruksie én restourasie van die vervlietendheid van wees deur middel van digterlike taal en vakmanskap.
Lesers kan uitsien na ‘n toeganklike en ontroerende bundel wat sing in die universele hartsaal van (enige) mens.
© Nini Bennett-Moll
Titel: tussen asem
Digter: Hannes Visser
Uitgewer: Naledi, 2026


Reviews
There are no reviews yet.