Danika Kellerman was vir ’n kort rukkie gelukkig getroud totdat haar man, Ryk Terblanche, in ’n vreemdeling ontaard het. Sy verloor hul ongebore baba nadat hy haar aanrand, en worstel steeds jare daarna met dié verlies terwyl hy sy vonnis in die tronk uitdien. Om die honger na haar eie kind te stil, word Danika ’n suksesvolle skrywer en werk as ’n vrywilliger by die neonatale afdeling van ’n hospitaal. Dit is hier waar Malan van den Heever haar raaksien …
Maar Malan worstel met sy eie omstandighede. Hy het sy swanger vrou in ’n motorongeluk verloor en die smart en skok dreig om hom te oorweldig. Die medici kon sy en sy oorlede vrou, Reina se tweelingbabas red, maar nie die moeder nie. Malan moet nou pa-alleen na sy pasgebore dogtertjies omsien, maar dit voel vir hom steeds onwerklik en hy sukkel om afskeid te neem van sy geliefde vrou.
By die hospitaal sien hy hoe liefdevol Danika sy tweeling vertroetel, en hy vra haar om hom met die versorging van sy kinders te help. Malan se skoonouers dreig egter om voogdyskap oor die tweeling te verkry, en sy prokureurvriend stel ’n gerieflikheidshuwelik voor ter wille van die kinders. Maar Danika sukkel om weer ’n man in haar lewe toe te laat, en Malan voel dat hy ontrou aan sy oorlede vrou is. Gedurende hierdie tyd word Danika se eksman in die tronk vermoor en sy word van die moord verdink. Sy besef ook dat sy haar ontluikende gevoelens vir Malan in hul gerieflikheidshuwelik geheim sal moet hou; dis ‘n dilemma dat sy nou verlief raak op haar eie man! Die getroude paartjie se wedersydse vriende vind na twintig jaar weer onverwags ’n kans op geluk, maar sal Danika en Malan vry kan breek van die kettings van hulle onderskeie verledes?
Die roman is bevolk met lekker en interessante karakters: Daar is Isabel en Ian, ekstrovertiese en kleurryke sepiesterre; Mavis, Malan se steunpilaar deur dik en dun; Ma San, Danika se wyse skoonma, en Ma Mara, wat, soos haar naam aandui, verbitterd is, met om enkeles te noem.
Die versweë titel, Ter wille van kan voltooi word as “ter wille van Nia en Anja,” die tweeling. Die verhaal se aanbod is realisties: Die noodlot kan enige oomblik toeslaan, en Human slaag daarin om ‘n teer roman oor kwesbare protagoniste te skryf. Die komplekse aard van huweliks- en familiedinamiek word ook vernuftig hanteer; vergifnis is nie wit of swart nie, maar beweeg in die grys areas van menswees. As sensitiewe liefdesverhaal wat nie skroom om weg te deins van die gebrokenheid van die menslike kondisie nie, is Ter wille van sterk aan te beveel. Onbaatsugtige liefde maak inderdaad van die wêreld ‘n beter plek.
© Nini Bennett-Moll
Titel: Ter wille van
Outeur: Madelie Human
Uitgewer: LUCA, 2026


Reviews
There are no reviews yet.