L’Être et le néant
Wie sal die bos laventel by jou bed sit,
die komberse dig oor jou moeë lyf trek?
Wie sal die vloed van riviere ontroer
sodat die water helend oor die
soetklip bly loop?
Wie sal die steenkoolmaan oproep
as die nag se wortels in die donker woude
jou deurgeloopte voete troos,
of die soekligte in die berg se kruine flits
en die swaar stilte die elegie verdoof?
Sal jy hier wees as ek na jou soek
op ’n sitadel ver bokant die swart basalt
van ’n sterlose nag as die klaviernote
overklaarbaar vanaf die oorkantse
kloof bly weerklink?
Sal jy hier wees as ék nie meer is nie –
sal jy my kom haal as ek is?
© Mellet Moll