Die Boekboetiek

, ,

Oogsterretjies

Jacolene du Plooy se reeks Die Seerowers van die Silwer Sardien is een van die bekendste en gewildste reekse kinderboeke in Afrikaans. Die gemmerkat Grommer en die seemeeu Septimus is die hoofkarakters wat saam avonture en pret beleef op die meeurowerskip die Silwer Sardien wat al heelwat beter dae geken het. Omdat die karakters diere en voëls is, kry die skrywer dit reg om sosiale waardes oor te dra sonder om prekerig of didakties te klink. As ʼn spelterapeut is du Plooy geskool in die sosiale bemagtiging van kinders deur spel en verhaal. Hierdie is die ideale manier om ʼn kind te bereik en identifikasie met “goeie” karakters te bewerkstellig.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Soos altyd wil Septimus liewer in sy kajuit wegkruip agter ʼn boek. Maar nou gewaar Kaptein Skewesnawel dat ʼn klomp vyandige pelikane Die Visblik se heerlike gebraaide vis wil plunder. Dis net nie reg nie, en Septimus moet teen sy sin kom help! Die albatrosse kry ook die geur van die vars vis en sluit by die pelikane aan. ʼn Yslike geveg ontstaan in Die Visblik. Grommer die gemmerkat kom sommige voëls met sy kettie by en verdedig die viswinkel dapper. Hy en Septimus raak daar en dan vriende en Septimus oorreed hom om ʼn seerower te word – iets wat Grommer sterretjies in sy oë gee. Maar eers moet hulle die klomp ongeskikte voëls ʼn les leer en Die Visblik teen die diewe beskerm.

Oogsterretjies beskik oor die basiese kwaliteite van ʼn goeie kinderboek. Dit is gepas vir die ouderdomsgroep 6-10 met ʼn boeiende storie en ʼn vaardige verteller. Hoewel nie mense nie, is die karakters herkenbaar en kan kinders maklik met hulle identifiseer. Die hoëgehalte illustrasies werk daartoe mee dat kinders se kreatiwiteit geprikkel word en die verhaal op meer as een vlak afspeel. Die positiewe boodskap en respek vir die kind as volwaardige persoon is besonder belangrike eienskappe.

Een van die aspekte wat die Silwer Sardien-reeks laat uitstaan, is die illustrasies. Dit is algemeen bekend dat goeie kinderboekillustrasies die storie versterk deur emosie en aksie oor te dra. In hierdie reeks boeke kom ekspressiewe karakters voor wat die leser intrek. Dit is illustrasies wat die verhaal ondersteun en ‘n unieke visuele ervaring vir die jong leser skep. Daarvoor kan ons Elsabé Ebersöhn bedank.

Die reeks Die Seerowers van die Silwer Sardien is ʼn bate vir enige familieboekrak en veral vir ʼn skoolbiblioteek.

© Marlies Taljard

Titel: Oogsterretjies

Outeur: Jacolene du Plooy

Uitgewer: LAPA, 2025

 

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Oogsterretjies”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top