Die Boekboetiek

,

Rietspruit

Johann Lodewyk Marais is ’n bekroonde digter en ook bekend as historikus, letterkundige, samesteller van versamelbundels en tydskrifredakteur. Rietspruit is sy vyftiende digbundel en moet binne Marais se oeuvreverband gelees word, aangesien van die vorige temas soos ekologiese bewustheid, maar ook die mens se brose verhouding met die natuur, herhaal. Rietspruit tref die leser allereers as herinneringspoësie, waar die hengelervaring voorop gestel word.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Vir sy debuutbundel, Die somer is ’n dag oud (1983) het Marias die Ingrid Jonker-prys in 1985 ontvang, en vir Diorama (2010) is hy met die South African Literature Award for Poetry in 2012 bekroon. In 2013 was hy InniBos se eerste feesdigter.

Hy het drie boeke oor die geskiedenis van die Oos-Vrystaatse dorp Harrismith en omgewing gepubliseer, wat in sy gedigte neerslag vind.

Hy het insgelyks reisboeke oor Mosambiek, Kenia en Botswana geskryf, asook talle akademiese en populêre artikels.

Visvang vorm ’n kernmotief in die bundel wat nie net letterlik uitgebeeld word nie, maar ook poëtiese en simboliese lae dra. Met ’n sterk fokus op die natuur, jeugherinneringe en menslike verhoudings gebruik Marais visvang as ’n uitgebreide metafoor vir introspeksie, familiebande, die siklusse van lewe en dood, en die brose verhouding tussen mens en omgewing, soos reeds genoem. Die bundel is gestruktureer om oorwegend herinneringspoësie te wees, waar die spreker-digter (dikwels ’n seun) terugkyk na sy kinderdae by varswaterbronne soos die Rietspruit, Dwaalspruit en Lakenvlei.

Visvang is ’n ryk poëtiese troop in literatuur wêreldwyd, veral in herinneringspoësie, waar dit dikwels staan vir die onbekende en die onderbewuste. Die varswaterbron, Rietspruit, verteenwoordig die vloei van tyd, memorie en emosies. Visvang “vis” dit wat verborge lê uit die dieptes van die geheue of die onderbewuste, soos genoem – ’n psigologiese “duik” in die verlede, soos in Sigmund Freud se beskouing oor die onderbewuste as ’n meer met sy verborge inhoud.

In vader-seun-narratiewe, soos in Norman Maclean se A river runs through it is visvang ’n ritueel van kennisoordrag, manlike binding en die oorgang na volwassenheid. Dit impliseer nostalgie, verlies (byvoorbeeld die afwesige pa), en heling. Hierdie temas figureer ook sterk in Rietspruit.

Die gedigte het ’n boeiende, paradoksale uitwerking op die leser: dit is enersyds afstandelik, maar andersyds “intiem” geskryf. Onder die rus van die viswaters skuil daar inderdaad veel meer; selfs onrus. Anders gestel: dit verteenwoordig tegerlykertyd die rustige, dog spanningsvolle wag op die vis om te byt (p. 34 verwys byvoorbeeld na gevare, soos die teenwoordigheid van ’n rinkhals). Elke gedig lees soos sorgsame ritueel in die kleine.

Die tweede afdeling fokus op varswaterspesies, waar die visspesies deur ’n kritiese, ekologiese lens bekyk word. Marais het in die verlede verskeie spesiebundels gepubliseer en hierdie is ’n voortsetting van sy oeuvre.

Visvang in Rietspruit is nie bloot ’n aktiwiteit nie, maar ’n poëtiese lens vir herinnering: dit vang die essensie van kinderdae vas, dit handel oor die verwerking van verlies, en pleit vir ’n deernisvolle verhouding met natuur. Dit maak die bundel ’n teer, introspektiewe werk wat nostalgie met ekologiese besinnings meng. Marais se vyftiende bundel is inderdaad ’n waardevolle toevoeging tot sy oeuvre.

 

MAAN

 

Die maan se geduld, getrou aan haarself

en hoe sy nog altyd was, bly my by

in hierdie groot en wye Suidernag.

Ek kyk uit oor die spruit, op in die lug

waar haar lig gedemp oor die aarde val

en die kollektiewe geheue is

van hulle wat, soos ek, haar aanskou het:

deur die tye heen op haar vaste baan,

geyk deur die kragte van die planeet.

O sielsgenoot, o tydige werpsel

in die groot hemelruim en ewigheid,

laat jou lig skyn oor ons wat iewers is

al trek jy ons stille waters skeef.        (75)

 

© Nini Bennett-Moll

Titel: Rietspruit

Digter: Johann Lodewyk Marais

Uitgewer: Naledi, 2025

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Rietspruit”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top