Die Boekboetiek

,

Die dogters van Casalina

Rina Cilliers se roman Die dogters van Casalina is ʼn klassieke liefdesroman. Alles is daar: ʼn kasteel so reg uit ʼn sprokie geleë op ʼn landgoed in die Knysnabos wat uitkyk op ʼn private baai, ʼn aantreklike dokter van Italiaanse afkoms en ʼn beeldskone vrou wat haarself moet vind nadat sy drie geliefdes verloor het. Ook die antagonis wat haar drome rondom die mooie dokter spin.

Lees meer in die beskrywing hier onder…

Ciska, die hooffiguur, is ʼn joernalis wat deur ʼn bejaarde dame gekontrakteer word om haar biografie te skryf. Omdat Ciska tans nie kans sien om terug te gaan na die koerant waar sy werk nie, gryp sy die geleentheid aan en raak sodoende ten nouste betrokke by ʼn interessante familie, die nasate van ʼn Italiaanse krygsgevangene uit die Tweede Wêreldoorlog.

Hoewel die verhaal vertel word uit die oogpunt van ʼn eerstepersoonsverteller (Ciska) word dit slim afgewissel deur die perspektiewe van die ou dame, Francina Bernardi, wat haar lewensverhaal aan Ciska vertel en haar man Nardus wat ook sy verhaal in die eerstepersoon vertel. Albei is karakters met fassinerende lewensverhale wat Ciska se verbeelding aangryp en sorg vir ʼn stimulerende leeservaring.

Wat intrige betref, is daar oorgenoeg elemente wat sowel vir ʼn naelbytervaring as humoristiese afwisseling sorg. Die verloop van die twee bejaarde mense se lewens en dié van Ciska is opvallend eenders deurdat al drie eers deur die lewe platgeslaan is voordat ʼn nuwe fase kon aanbreek of berusting verkry kon word. Die unieke kunswerke wat tant Franciska op die mure van die kasteel se ingangsportaal geskep het – ʼn geskilderde biografie van die kasteel se inwoners – verleen ʼn alternatiewe dimensie aan die Bernardi-verhaal.

Die Knysnabos en die strand digby die Knysna-koppe vorm ʼn romantiese agtergrond waarteen die verhaal geprojekteer word. Terselfdertyd is dit egter ook die plek waar skrikwekkende verliese al deur verskillende inwoners van die kasteel gely is.

Rina Cilliers is ʼn ervare skrywer wat die leser vanaf die heel eerste bladsy in die intrige intrek en sorg dat mens nie die boek maklik kan neersit nie. Sy skryf in eenvoudige, leesbare dog kreatiewe Afrikaans. Die verhaal boei tot op die heel laaste bladsy, aangesien daar steeds nuwe, onverwagse verwikkelinge is. Dit is ʼn boek wat mens oor ʼn rustige naweek langs die swembad of op jou sitkamerbank kan klaar lees en wat sorg vir ontspanning en afleiding uit die alledaagse sleur.

© Marlies Taljard

Titel: Die dogters van Casalina

Outeur: Rina Cilliers

Uitgewer: LUCA, 2025

 

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Die dogters van Casalina”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top