Every man is born as many men and dies as a single one. – Martin Heidegger
Gaan nou, my voorloper, my touleier
my weerman en my onweerman
gaan, en weet ek sal die wolke by my hou
vir dae soos dié
gaan, en weet ek sal die wind wegsteek
in die stof wat saampak in die verekleed van voëls
gaan, en weet ek sal die reën begrawe
in die oorryp grond van eerste lente.
Ek sal wagstaan oor die halwe ewigheid
wat nou vir ons begin
ek sal die gewyde meetkunde
van ver planete in my notaboek omskryf
konsentries, soos die kringe en ellipse
in die bane van vlugtige komete.
Gaan nou, en weet ek sal die heksagone
van yskristalle in die sneeubedekte eilande
bewaar, en op ’n hawelose nag sal jy
die landingsligte vind
en heel word in die koue bries
wat smôrens oor die tussenwêreld waai.
Aan watter kant van hierdie lewe sal ons
een word met die duisternis van tyd en die
onontdekte ruimtes rondom ons verken?
© Mellet Moll (4 Maart 1967 – 28 Oktober 2024).
Uit sy nagelate verse (Sterfkennis) was later vanjaar postuum verskyn.
*
Vandag, 15 maande later, dink ons steeds – altyd – met liefde, deernis en respek aan jou.
Nini Bennett-Moll & Klara van Zyl.