Die Boekboetiek

,

Die raaisel van die bloedkristal

’n Tydreis na die antieke Egipte, met mummies, ’n sfinks en ’n krokodilgod is die tema van die derde boek in Antoinette Venter se reeks Kinders van die gode.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Die hoofkarakters is Jabari, ’n weeskind, en sy boesemvriend Danie. Dit blyk dat Jabari se geboortevlek op sy voorkop eintlik ’n hiëroglief is wat op dertienjarige leeftyd aktief word en hom basies verplig om die tydreis na die antieke Egiptiese ryk te onderneem om die swaard van Osiris op te spoor. Hy is inderdaad in die antieke Egipte, soos Moses, in ’n mandjie langs ’n rivier gevind en verplaas na die hede waar hy in ’n weeshuis beland het.

Soos dit maar met tydreisigers gaan, is Jabari se avontuur gelaai met spanning en by tye wonder die leser of hy kan oorleef en na die moderne tyd kan terugkeer. Die spanning styg dramaties en vinnig en gebeure volg mekaar vinnig op – ’n voorvereiste wanneer ’n skrywer vir tieners skryf. Jabari en Danie is twee tipiese tieners. Die nuwe onderwyser, prof. Uranus is wat tieners as weird sal bestempel – maar dan is hy ook nié wat hy op die oppervlak blyk te wees nie! Lesers sal lekker lag kry vir prof. Uranus, maar maklik met Jabari en Danie se karakters kan identifiseer.

Die verhaal neem die lesers na ʼn ruimte waarvan hulle beslis al gehoor het, maar wat wildvreemd is vir die moderne tiener wat aan selfone, rekenaars en TV’s gewoond is. Sonder om prekerig of pedanties te wees, word die leser blootgestel aan die antieke Egipte met talryke vreemde en vreesaanjaende karakters, gebeure en “gediertes” wat dikwels heiliges en gode blyk te wees.

Vir diegene wat nog sku is om self te lees, is die boek darem nie te dik nie en is talryke sprekende tekeninge ʼn bonus. Die skrywer se vaardige omgang met Afrikaans en haar suiwer taalgebruik, asook haar insig in die Afrikaans wat dertienjariges tipies gebruik, maak die boek ʼn heerlike leeservaring en ʼn aanwins vir enige skoolbiblioteek. Dit is ook die ideale geskenk vir ʼn boekwurm óf iemand wat versot is op tydreise, spanning en humor.

 

© Marlies Taljard

Titel: Die raaisel van die bloedkristal

Outeur: Antoinette Venter.

Uitgewer: Protea Boekhuis, 2025

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Die raaisel van die bloedkristal”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top