Karen de Wet is ʼn ervare bloemleser wat al verskeie versamelbundels agter haar naam kan skryf – dink byvoorbeeld aan Vers en Vrou. Sy gee in haar Inleiding, “Die bladspieël van bestaan”, ʼn deeglike verantwoording van haar werkwyse en die keuse van gedigte wat in Atrium opgeneem is. Kyk ʼn mens na die Inhoudsopgawe en lees mens die bundel gedig vir gedig, is dit duidelik dat die bundel gebalanseerd saamgestel is in dié sin dat alle bundels van Joubert verteenwoordig word en daar selfs 9 nuwe gedigte opgeneem word. Die klem val egter op Joubert se laaste 6 bundels, met die meeste gedigte uit Grondwater wat met ʼn ATKV-Veertjie én die SALA-Poësieprys bekroon is.
Verder is so ʼn bundel ook nie volledig sonder ʼn register van eerste reëls, ʼn biografie van die digter en ʼn lys van publikasies nie, en ook hier stel die samesteller nie teleur nie. Die voorblad- en flapfoto’s is van die treffendstes wat ek nog gesien het van ʼn jeugdige Marlise Joubert. Kortom: Atrium is ʼn pragbundel!
Die bundel is chronologies saamgestel sodat die leser die gedigte as’t ware in ʼn tydskapsule kan lees en ʼn beeld kan vorm van die ontwikkelingsgang van die digter se styl, tematiek, wêreldbeeld en ingesteldheid ten opsigte van die lewe.
De Wet wys op die groot omvang van tematiese stof wat oor ʼn tydperk van 55 jaar deel geword het van Joubert se oeuvre. Joubert debuteer in 1970 en is dus ʼn tydgenoot van Antjie Krog, Sheila Cussons en Wilma Stockenström. Omdat sy ook skilder van beroep is, is visuele waarneming een van die vernaamste kenmerke van haar digterskap en dikwels skryf sy oordadig en surrealisties. Sy is by uitnemendheid ʼn digter wat ʼn stem gee aan die vrou, die vroulike belewenis, die vroulike liggaam, vroulike seksualiteit, liefde en teleurstelling, moederskap en innerlike én lyflike verwonding. Sy neem sterk stelling in teen onreg (veral teenoor vroue en kinders) en in die laaste jare ook teen die voortslepende oorloë. Haar laaste werk staan in die lig van siekte, bejaardheid, versorging, pyn, nadenke oor lewe en dood en die beligting van haar familie se kleingeskiedenisse. Tereg laat De Wet die klem val op die gedigte waarvoor Joubert veral bekend sal bly, naamlik haar laatwerk. Gelukkig gee sy die leser egter ook ʼn venster op haar erotiese en liefdesgedigte wat haar vroeë werk kenmerk.
Veral omdat baie van Joubert se eerste bundels tans nie meer beskikbaar is nie, is Atrium ʼn belangrike werk wat die volheid van Joubert se oeuvre vir die leser belig.
© Marlies Taljard
Titel: Atrium
Outeur: Marlise Joubert, versamel en ingelei deur Karen de Wet
Uitgewer: Protea Boekhuis, 2025


Reviews
There are no reviews yet.