Ek was seker so vyf jaar oud toe ek ‘n kinderboek gelees het wat ek tot vandag toe kan onthou: Elna se gans. En ek onthou spesifiek die besondere illustrasies. Ek het al met heelwat mense gepraat oor hulle belewenisse van kinderboeke, en ‘n interessante feit staan uit: Hulle onthou die treffende grafika, selfs al het daar dekades verloop. Dit is die wonder van kinderboeke; ongeag hoeveel boeke jy later gelees het, daardie eerste juwele is in jou geheue ingegrein. Ja; ek onthou ook ek het my oë uitgehuil toe Elna se gans aan die einde van die boek wegvlieg, die skemer in.
Vandag is ek middeljarig en gemaal deur die lewe, maar vir ‘n paar minute kon ek weer daardie verwondering, daardie verrukking beleef wat ek as jong kind, kinderboek in die hand, gevoel het.
Wat die boek kosbaar maak, is feitegids oor diere agter in die boek. Gertruida Gans leer ‘n les is geskoei op Bybelse beginsels, met toepaslike teksverse en ‘n gebed om verdere opvoedkundige waarde aan dié pragstorie te verleen.
Die skrywer, Halrika Breytenbach is ‘n kommunikasiekonsultant wat glo in die opbouende en genesende waarde van stories. Monja Spies, die grafiese kunstenaar, maak haar debuut as illustreerder van hierdie kinderboek. ‘n Mens hoop om nog heelwat van haar werk te sien, want dit is werklik asemrowend mooi gedoen.
Ek hoop dat Gertruida Gans leer ‘n les haar weg sal vind na baie baie kinders – en dat hierdie kleinood nog heelwat kinderharte sal verbly – en verryk.
© Nini Bennett-Moll
Titel: Gertruida Gans leer ‘n les
Outeurs: Teks – Halrika Breytenbach; illustrasies – Monja Spies
Uitgewer: Naledi, 2025


Reviews
There are no reviews yet.