Die Boekboetiek

The Devil Made Me Do It: Understanding Occult Crime in South Africa

Onthou jy nog die Satanic panic van die tagtigerjare? En ooms, soos Rodney Seale, wat skole besoek en kinders gewaarsku het teen die gevare van rockmusiek teenbackmasking?

Uiteindelik verskyn daar ’n werk wat hierdie ontstuimige tydperk in perspektief plaas. Nicky Falkof se The Devil Made Me Do It: Understanding Occult Crime in South Africa is ’n boeiende en insiggewende verkenning van die narratiewe rondom okkultverwante misdaad in Suid-Afrika. Falkof ondersoek die mites, vrese en realiteite van verskynsels soos satanistiese samesweringsteorieë, beskuldigings van heksery, moetiemoorde en bewerings van demoniese besetenheid; en bied só ’n kritiese perspektief op waarom hierdie stories so ’n sterk greep op die nasionale psige gehad het.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

Nicky Falkof is ’n medeprofessor in Mediastudies aan die Universiteit van die Witwatersrand. Die boek bespreek hoe Suid Afrikaners, ongeag ras of klas, die land se tasbare krisisse – armoede, werkloosheid, geslagsgebaseerde geweld en kindermishandeling, dikwels aan okkultverwante aktiwiteite toeskryf. Sy slaag daarin om haar navorsing te sinkroniseer met boeiende vertelkuns. Deur historiese analise en hedendaagse voorbeelde ineen te weef, toon sy hoe okkulte verse inderdaad groter maatskaplike paniek weerspieël. Byvoorbeeld, sy illustreer hoe satanistiese paniek toon dat wit Suid-Afrikaners in die apartheids-era hul vrese vir ’n veranderende politieke orde op denkbeeldige demoniese bedreigings geprojekteer het.

Hierdie werk is ’n meestersklas in die beskouing van die Self (Suid-Afrika) en die Ander (drogredes om vas te klou aan Apartheid) – en om die vrees vir verandering te demoniseer.
Falkof daag lesers uit om die geldigheid van okkulte misdaadnarratiewe te bevraagteken, terwyl sy die kulturele belang daarvan erken. Byvoorbeeld, sy ondersoek of daar enige waarheid in hierdie bonatuurlike verhale is, en argumenteer uiteindelik dat hul krag nié in hul waarheid lê nie, maar in hul vermoë om onuitgesproke vrese oor ’n gefragmenteerde samelewing te artikuleer. Falkof vermy beide afwysende skeptisisme en onkritiese aanvaarding, en bied eerder ’n raamwerk om te verstaan waarom Suid-Afrikaners hulle na die okkulte wend om die onverklaarbare te verduidelik.

Sy maak gebruik van werklike gevallestudies, soos die berugte Krugersdorp- kultusmoorde van 2012-2016, die moord op ’n kind in die 1920’s wat vir ’n tokoloshe aangesien is, en die 2022-moetiemoord op ’n sesjarige meisie. Sy neem ook die polisie se eenheid vir okkultverwante misdrywe onder die loep.
The Devil Made Me Do It: Understanding Occult Crime in South Africa is ’n moet-lees vir enige iemand wat belangstel in die kruisbestuiwing tussen geloof, mag en geweld in ’n pre- en post-apartheidskonteks. Die werk belig nie net die donker fasette van Suid-Afrika se kollektiewe verbeelding nie, maar hou ook ’n spieël op oor die sosiale ongelykhede wat hierdie vrese aanwakker. Dog; as ’n nasie wat worstel met diepgewortelde sosiale ongelykhede en ’n komplekse geskiedenis van rasse- en kulturele spanning, is die nasleep van die Satanic panick vandag steeds voelbaar.

© Nini Bennett-Moll

Titel: The Devil Made Me Do It: Understanding Occult Crime in South Africa
Outeur: Nicky Falkof
Uitgewer: Penguin Random House South Africa, 2025

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “The Devil Made Me Do It: Understanding Occult Crime in South Africa”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top