Die Boekboetiek

Net mooi fine

Net mooi fine is Lanie van Reenen se opvolg op haar memoir C’est la vie. Hierdie boek is gebaseer op diep selfondersoek nadat sy voorlopig haar projek om ’n ou kasteel in Frankryk as gastehuis te bedryf, moes laat vaar. Sy bring eindelose ure op haar sielkundige se blou bank deur omdat sy deur depressie en moedeloosheid geteister word.

.Lees meer in die beskrywing hieronder…

As terapie onderneem die skrywer die Portugese camino wat sy op haar fiets aanpak. Haar fiets was nog altyd haar manier om haarself op te beur en ook hierdie keer werk dit. Sy leer mense ken met wie se lewensreis sy kan identifiseer, verloor haar rugsak met al haar geld en reisdokumente en kry dit terug deur die goedhartigheid van mense wat dit optel waar sy dit langs die pad vergeet het.

Na baie teleurstellings en die verlies van alles wat sy besit het, sowel as die dood van haar man, moet die skrywer ’n manier vind om weer op haar voete te kom. Sy skryf die boek as ’n gesprek met haar dierbare vriendin Merwede van der Merwe wat sy in dié tyd ook aan die dood afstaan.

Uiteindelik kom daar uitkoms, maar nie sonder aardse verliese, beskuldiginge en die verlies van vriende en vertrouelinge nie.

Ten spyte daarvan dat hierdie verhaal gebaseer is op verlies en aflegging, bly dit die leser fassineer. Die vertelstyl is eenvoudig en eerlik en ek as leser kon ten diepste met die verteller identifiseer. Die landskapbeskrywings is, soos ook in C’est la vie, indrukwekkend en ook die innerlike stryd van die hoofkarakter word oortuigend, sonder oordrywing of stroperigheid uitgebeeld.

Hierdie opvolg op C’est la vie is ’n móét, aangesien baie van die vrae wat die leser nog na dié boek gehad het, in die opvolg aan die bod kom. Dit is die verhaal van stroping en gestrooptheid en die verhaal van ’n mens wat met min meer tevrede is as toe sy oorvloed gehad het – ’n spirituele reis wat getuig van geloof, hoop en deursettingsvermoë in die ngesig van sóveel teëspoed as wat ‘n mens maar kan verduur.

 

© Marlies Taljard

Titel: Net mooi fine  

Outeur: Lanie van Reenen. Tweede uitgawe

Naledi, 2025

 

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Net mooi fine”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top