Die Boekboetiek

Laastegoed

Laastegoed

“Sy leer my dat die lewe jou dikwels sideways sal klap; soms moet jy bloei om te kan sien of jy nog lewe.” So skryf Jaco Rademeyer in die laaste rubriek wat Annelie Botes uit die traliebed in die Greenacres hospitaal dikteer kort voor haar dood in Desember 2024.

Laastegoed bevat 196 van Annelie Botes se laaste rubrieke wat oor baie jare op Netwerk24 verskyn het.

.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

“Sy leer my dat die lewe jou dikwels sideways sal klap; soms moet jy bloei om te kan sien of jy nog lewe.” So skryf Jaco Rademeyer in die laaste rubriek wat Annelie Botes uit die traliebed in die Greenacres hospitaal dikteer kort voor haar dood in Desember 2024.

Laastegoed bevat 196 van Annelie Botes se laaste rubrieke wat oor baie jare op Netwerk24 verskyn het. Dit dek die voor-Covid-tyd en die Covid-pandemie tot die einde van haar lewe, ʼn tydperk waarin sy al baie siek was en dikwels onuithoudbare pyn verduur het. Wat my die hardste getref het met die lees van die boek, is hoe positief dié vrou ten spyte van haar lyding bly. Hoedat sy steeds die humor van situasies vasvang sodat ek eers die boek moet neersit en klaar lag. En hoedat ek soms die boek moet neersit om klaar te huil. Tog ontken sy nooit haar pyn nie en veins sy nooit positiwiteit nie. Eerlikheid en openheid bly steeds Annelie se waarmerk, tot haar dood.

Annelie Botes was volksbesit. Duisende lesers het elke week uitgesien na haar rubrieke waarin sy oor haar eie lewe skryf en besin, raad gee, uitskel, moed inpraat en menings lug. Soms wonder ek of sy nie maar ʼn wag voor haar mond moes sit nie – maar nee, dit is Annelie! So ken ons haar en so waardeer haar lesers haar. Haar styl is uniek. Haar taalgebruik haal sy uit Uniondale, Bedford en Port-Elizabeth-Oos-Londen. Dis streekstaal wat lééf en raakvat. Na haar dood skryf ʼn leser op Netwerk24: “Niemand sê dit soos Annelie nie. Ons het soveel reise saam met haar en die ou Gryse geloop dat ons voel of ʼn groot en bekende gees ons verlaat …”

In die 15 afdelings van die boek kom uiteenlopende temas aan bod: swaarkry, pyn, geloof, die verlede, die hede, staaltjies uit die ware lewe, sielsdinge, die korona-tyd, natuurdinge en diere, en kindwees.

Annelie bou haar rubrieke rondom verse en gedeeltes uit die Bybel of aan die hand van aanhalings uit die wêreldliteratuur. Musiek word dikwels op kreatiewe wyse in haar rubrieke ingevleg – sy was immers ʼn musiekjuffrou en orrelis. Soms is haar rubrieke didakties van aard, maar nooit prekerig nie. Vir my sou dit sin maak om die rubrieke as dagstukke te lees. Hoewel dit nie slegs op Christene of op ʼn bepaalde denominasie gerig is nie, word haar werk onderlê deur ʼn diep geloof in God, verwagting van die goeie en hoop op ʼn beter bedeling – waardes wat tot alle mense behoort te spreek.

Koop beslis hierdie boek! Dit is een van die mees verrykende boeke wat ek die afgelope tyd gelees het.

© Marlies Taljaard, 01/8/2025

Titel: Laastegoed

Outeur: Annelie Botes

Uitgewer: Penguin Books 2025

Sagteband. 384pp.

ISBN 9781776392278.

Prys: R310

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Laastegoed”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top