Die Boekboetiek

Wat is intertekstualiteit?

Intertekstualiteit is ‘n begrip wat handel oor die beginsel van wisselwerking tussen tussen
verskillende tekste, en is op die voorgrond gestel deur die werk van Franse Strukturalis, Julia
Kristeva. (Moet julle nie kwel oor strukturalisme of oor Kristeva nie). Dit beteken vereenvoudigend
dat ‘n teks, byvoorbeeld ‘n gedig, ‘n weerspieëling is van ‘n onbeperkte aantal “sitate” – ander tekste
van tydgenootlike en vroeëre digters. Intertekstualiteit dui daarop dat ‘n produksiegerigte en
dinamiese lesing van tekste, byvoorbeeld gedigte, voorgestel word. Die sosiale en kulturele konteks
van ‘n gedig kan ook “teruggelees” word in ‘n gedig. (1) ‘n Mens kan sê dat intertekstualiteit
“indirek” altyd teenwoordig is in ‘n gedig – selfs al knoop die digter nie direk ‘n gesprek aan met
ander digters of ander persone nie, is die laag van sitate, of die intertekstuele inbedding steeds
teenwoordig. Hoe meer ‘n leser van poësie dus gelees het, hoe meer betekenis sal hy kan “toevoeg”
by die lees van ‘n gedig. (2) Direk kan ‘n leser intertekstualiteit “herken” as ‘n digter direkte
aanhalings gebruik in ‘n gedig, byvoorbeeld iets van ‘n ander digter, skrywer, ensovoort bo-aan ‘n
gedig, in die begin van ‘n afdeling in ‘n bundel, of voor in ‘n bundel. Dan is daar nog ‘n begrip,
naamlik “literary competence”, of ‘n leser se literêre bevoegdheid. Dit beteken vereenvoudigend dat
‘n leser se “vermoë” of bevoegdheid om ‘n teks, byvoorbeeld ‘n gedig goed en produktief te lees. Dit
veronderstel dat reeds ‘n sekere mate van kennis vooraf sal hê om die gedig na behore te kan
interpreteer. “Produktief” hier beteken ook dat die leser self op produktiewe wys betekenis
genereer uit die gedig, en ‘n aktiewe mederwerker as leser is. Maar die belangrikste hier is (1) en (2).
‘n Interteks kan meer as net ‘n aanhaling of sitaat (direk of indirek teenwoordig in ‘n gedig) wees. ‘n
Interteks is ook dinge wat grens aan algemene kennis, soos die Bybel (byvoorbeeld sê nou maar ‘n
digter verwys na Jesus of na manna in die woestyn); ‘n prent, beeld, foto, skildery…of ‘n bekende
koerantberig, film, ensovoort. Hoe wyer ‘n leser se algemene en literêre kennis is, hoe meer
intertekste sal hy in ‘n gedig herken; en hoe sterker is sy literêre aanspraak om produktief betekenis
te genereer uit ‘n gedig. ‘n Interteks is dus ‘n fyn ingebedde “diskoers” (of gesprek) wat binne-in ‘n
gedig skuil.
As jy gedig skryf en intertekstueel wil werk, onthou dat dit die peil van jou vers lig. (Altans, dis hoe
sommige resensente en literatore dit sien). Dit dui op ‘n belesenheid en koop geloofwaardigheid – jy
dig nie net nie, jy is ernstig sover dit poësie aangaan. En jy wys dat jy werk binne ‘n (literêre) tradisie.
Maak net seker dat wanneer jy ‘n sitaat aanhaal, dit nie die gedig oorskadu nie. Die “quote” kan
sterker wees as ‘n gedig, of dit kan oorbodig vertoon gemeet aan die inhoud van die gedig. Die
interteks moet in alle opsigte aanvullend wees tot die nuwe gedig.

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Wat is intertekstualiteit?”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top