Die Boekboetiek

,

Die drie swaarde

Die drie swaarde is deel van die reeks Die seerowers van die Silwer Sardien waarin die bangerige seemeeu Septimus en die dapper gemmerkat Grommer asembenemende avonture en baie pret beleef saam met die res van die meeurowers.

Lees meer in die beskrywing hieronder…

In hierdie boek moet Grommer en Septimus en hulle maats ʼn skat beskerm wat deur ander seerowers bedreig word. Die kat en die seemeeu is nog nie ervare seerowers nie, en aanvanklik is Grommer nogal verveeld, maar Septimus is ʼn perfeksionis en wil alles perfek hê vir die dag wanneer hulle in regte gevegte betrokke gaan raak. Dié dag breek gouer aan as wat hulle verwag wanneer Septimus ʼn skatkaart ontdek. Hulle oorreed vir Kaptein Swartsnawel met sy een houtbeen om na die Towereiland te vaar om die skat te soek. Die Silwer Sardien vertrek, maar gou tref ʼn storm hulle en die skip ly skipbreuk. Intussen is daar ʼn ander seerowerskip op pad na Towereiland en die skat …

Grommer-hulle moet nou op eie houtjie uit die verknorsing kom en die skat eerste vind. Die eerste uitdaging is dat hulle simbole moet ontrafel. Dan moet hulle die waarde van vreedsame naasbestaan leer wanneer hulle deur die Kung Fu-kraaie bedreig word. Hulle moet almal saamwerk om ontbyt te maak en water te vind. Uiteindelik vind hulle die drie swaarde met spesiale kragte wat die kraaie se kragte kan teruggee.

Die groot avontuur wat die meeurowers beleef neem ʼn positiewe wending, terwyl almal basiese en noodsaaklike lewenslesse geleer het.

Een van die aantreklikste eienskappe van die boek is Elsabé Ebersöhn se kleurryke illustrasies op byna elke bladsy. Die gesigsuitrukkings van die verskillende rowers het my die meeste geamuseer. Dit is karakteriserend en terselfdertyd vermaaklik, soms humoristies en altyd aanvullend tot die verhaal. Fokus op klein besonderhede prikkel die verbeelding van die lesers.

Die skrywer, Jacolene du Plooy, is ʼn spelterapeut wat kinders bemagtig deur spel en verhaal en hierdie verhaal getuig van haar vaardigheid om kinders te bereik sonder om pedanties voor te kom. Die reeks Die Seerowers van die Silwer Sardien is nie net groot pret vir kinders nie, maar leer hulle om in uitdagende omstandighede die regte besluite te neem en om waardes aan te leer wat hulle lewenslank in hulle sosiale omgang sal bemagtig.

@Marlies Taljard 

Titel: Die drie swaarde
Outeur: Jacolene du Plooy
Uitgewer: Lapa 2025

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Die drie swaarde”

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top