Nini Bennett-Moll:
Hallo, Malene. Welkom by Die Boekboetiek. Jy is ons tweede gas op dié
opwindende nuwe forum – en ons sal ook dié onderhoud boekmerk as ’n historiese een. Baie geluk met jou Romanza, Liefdesleuens wat onlangs verskyn het. Vertel ons asseblief meer van die mens en skrywer, Malene: jou grootwordjare, jou skrywersloopbaan (daar het al meer as 50 boeke uit jou pen verskyn), ensomeer.
Malene Breytenbach:
Dankie vir die eer om julle tweede gas te wees!
Ek is in Suid-Afrika gebore maar net daarna het my ouers na
Rhodesië/Zimbabwe verhuis en wel na die dorp Gwelo. Ons was daar tot my
veertiende jaar en ek het gelukkige koloniale buitelugkinderjare gehad, met kaalvoet loop, fietsry, buite in die tuin en bos speel (goed soos cowboys and
crooks, modderkoeke bak, pieknieks langs riviere in die bos, ten spyte van
gevaarlike wild, slange en bilharzia). Daar was ek in Engelse skole met die name van koloniale figure, Cecil John Rhodes School, en Chaplin High School. As Afrikaanse kind moes ek presteer om vir die Engelse, wat maar op Afrikaners neergesien het, te wys dat ek net so slim en slimmer as hulle kan wees. Ek het gesing en was goed in kuns en het in skoolopvoerings opgetree en in kore en solo gesing. Toe verbeel ek my in daardie klein poeletjie dat ek dalk ‘n operasangeres gaan word soos Mimi Coertze. Helaas was die talent nie groot genoeg daarvoor nie.
Uhuru het deur Afrika getrek en Rhodesië wou onafhanklik word (UDI verklaar, met Ian Smith as eerste minister), en my pa het ’n oorlog voorspel wat wel gekom het, toe keer ons liewer terug na Suid-Afrika. Die aanpassing was nogal moeilik. Ek is ná Engelse gemengde skole na die Afrikaanse Hoër Meisieskool waar ek gematrikuleer het. Ek het met beurse aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en BA (met hoofvakke Engels en Frans) behaal, waarna ek as vertaler gewerk het. Toe behaal ek BA(Hons) (Engels) en is ook as beëdigde regsvertaler ingesweer. My man Willie was dosent by Tuks, hy het vir my klasgegee, ons het ontmoet, getrou en naderhand een dogter (Karen) gehad.
En daar kry Willie ’n aanbod om professor by Stellenbosch Universiteit te wees en ons verhuis na die pragtige dorp waar my pa nog aan Paul Roos Gimnasium (toe nog Hoër Jongenskool) gematrikuleer het. Ons was nog nooit spyt nie.
Ek het die grade Hons, magister en DPhil in Joernalistiek, magister in Ou Nabye Oosterse Studie en MPhil in Antieke Studie behaal, ook by die Universiteit gewerk, eers in Openbare Betrekkinge, vervolgens Kommunikasie en Stellenbosch Stigting.
Toe besluit ek om te probeer fiksie skryf. My eerste boek, Palmyra herleef, is in 2005 deur LAPA Uitgewers gepubliseer. Ek het gedans van blydskap en trek toe daar los en skryf voort. Altesaam het ek meer as vyftig liefdesverhale (kontemporêr, medies, histories, Romanza en Superromanza) vir Lapa en NB Uitgewers geskyf. Twee romanses is onder die skuilnaam Marilyn Bennett gepubliseer.
My jongste Romanza is Liefdesleuens.
Ek het ook 13 romans (Afrikaans en Engels) geskryf, sowel as kortverhale in tydskrifte soos You, Huisgenoot, Rooi Rose, Vrouekeur en Kuier. Aan die
oorwinnaars die buit, is uitgegee deur die ATKV digitale uitgewer.
Ek het ook kortverhale in die bundels Bloots, Skarlakenkoors, Skrik op die lyf, Hartlam, Lyfskap, Vrydagaand en Stories vir die Siel. Dit is lekker om kortverhale te skryf, as jy net idees kan kry (in die bad, voor die spieëltafel, in geselskap).
My jongste roman, uitgegee deur Luca, is Die Boekengel, wat tot my intense
vreugde al weke lank iewers in die Nielsen Top 20 boeke boer. Die Vrywilligers verskyn in Januarie. Ek is besig met ’n derde een vir Luca.
Ek het afgetree en gesê ek gaan my nuwe lewe in, dié van voltydse skrywer. Nou is daar meer tyd en minder gejaagdheid, en watter seën is dit nie! Ek poog om te skilder, nou en dan, maak tuin en lees soveel en so wyd soos ek kan, Engels, Afrikaans, fiksie en nie-fiksie.
Ons dogter Karen het getrou met Barry Botha en daar is drie kleinkinders, Mia, James en Katrin. Hulle woon nou in Ciprus en ons vlieg maar oor die waters om te kuier.
Ons is almal versot op troeteldiere, veral katte, en was nog nooit sonder hulle nie,
elkeen met sy eie persoonlikheid. Nou is die baas in ons huis Alexander die Grote, ’n fluffy gemmerkat, eet ons omtrent uit die huis uit, maar gee ons baie plesier.
NB-M:
Liefdesleuens: Gee die lesers ’n voorsmakie, asseblief.
MB:
“Maya en Douw sit oorkant mekaar in die sagte lig van die kers in hulle gunstelingrestourant. Die lig flikker op hulle gesigte en gooi hulle verwronge
skaduwees teen die muur. Die ander mense se geselsery is ’n sagte
agtergrondgeruis. Vanaand is veronderstel om ’n romantiese aand te wees. Dis Maya se dertigste verjaardag en die driekaraatdiamant aan haar linkerhand flits behoorlik as die lig dit vang. Dié pragtige en opvallende ring sit al vier jaar lank aan haar vinger. Mense sien dit altyd raak. Sy werk as agent by Prestige Properties en Douw is die eienaar. Kort nadat sy in die maatskappy aangestel is, het hulle besluit dat hulle vir mekaar bedoel is. Douw is nie net buitengewoon aantreklik met sy lang lenige lyf, blonde kuif en helderblou oë nie, hy is ook lewendig en charismaties en kan met mense toor. Lyk nogal na die filmster Ryan Gosling en weet dit. Hulle spot altyd
daaroor. Boonop is hy een van die suksesvolste en gesogste eiendomsagente
waarvan sy weet.
Die agentskap het slegs drie agente en ’n ontvangsdame cum sekretaresse, maar hulle doen besonder goed vir hulle grootte. ‘Douw kan ’n krot aan ’n miljardêr verkoop en die man laat dink hy kon die winskoop nie weerstaan nie,’ het een van hulle vriende gespot.
Sy kon hom ook nie weerstaan nie, en hy het nie gehuiwer om haar onmiddellik in te palm nie. ‘Ek wou nog altyd ’n Ierse skoonheid gehad het,’ het hy vir haar gesê. ‘Een met swart hare en oë grys soos die wolke as ’n storm opsteek. Iets wat ’n mens nie agter elke bos sal uitskop nie.’
Met komplimente is hy nog nooit suinig nie. Hulle is veronderstel om vanaand vrolik te wees, maar daar is iets ongemakliks in die lug.
Die kelner bring hulle biefstukke en sit dit voor hulle neer. Dit lyk heerlik en by dié fynproewersrestourant is dit ook aantreklik voorgesit, met net die regte trimmings, soos Douw altyd sê. Hy is baie kieskeurig as dit by kos kom. Die kelner skink vir hulle nog van die Franse sjampanje. Douw sal nooit die plaaslike vonkelwyn bestel nie en vanaand het hy die duurste invoerproduk bestel. Maya probeer sy gesigsuitdrukking lees. Waarom lyk sy glimlag gedwonge? Sy kry die indruk dat sy blik afwesig is, asof iets hom pla. Sy oë dwaal, en hy kyk nie intiem in haar oë soos gewoonlik nie.
Sy kyk fronsend na hom. ‘Is iets verkeerd?’ Dit lyk asof sy glimlag soos die kerslig flikker. Hy kyk apologeties na haar.
‘Nee, ek is jammer. Lyk dit so? Daar’s net iets omtrent ’n huis wat ek verkoop het wat my pla, maar dis niks wat ek nie kan uitstryk nie. Moenie jou daaroor kwel nie.’ Haar oë bly ondersoekend op sy gesig. Waar is die warmte en konneksie wat hulle gewoonlik deel? Teleurstelling spoel deur haar. Vandag is ’n sogenaamde ronde verjaardag, ’n okkasie, maar dis nie so lekker soos sy veronderstel het dit gaan wees nie.
Hulle klink glase. ‘Op die mooiste vrou in die land vir wie ek die liefste is.’
Verbeel sy haar of hoor sy ’n vals noot in sy stem? Hulle eet en drink, maar hulle gewone geterg en speelsheid is afwesig. Hulle lag nie vir mekaar se grappies nie. Daar is ongemak, ’n onderstroming van spanning.
Sy sluk haar sjampanje, maar haar gedagtes is kolkend. Iets is verkeerd.
Daar is skielik ’n glasmuur waardeur sy nie kan dring nie. Het iets lelik skeefgeloop by die besigheid, maar Douw wil haar nie vertel en ongerus maak nie? Wat wil hy haar nie vertel nie? ‘Jy is net nie jou gewone self nie. Ons is veronderstel om vanaand te geniet en iets te vier, maar jy is allesbehalwe vrolik.’ ‘Ag, Maya, ek is jammer. Ek voel nie te gesond nie. Miskien het ek iets onder lede.’
Hy steek sy hand oor die tafel en vat hare. ‘Ek is jammer as ek jou verjaardag
bederf. Belowe ek sal vergoed. Vandag was net chaoties en ek het regtig ’n seer keel en hoofpyn.’ ‘Skuif maar dinge wat jy nie kan hanteer nie, op my af,’ terg sy. ‘Ek is mos jou werknemer ook, nie net jou verloofde nie. Jy kan mos altyd op my nommer druk as jy onder druk is. Ons is tans vreeslik besig, maar ons kan dit met mekaar se hulp hanteer.’
Hy trek haar hand nader en soen dit. ‘Ja, ek weet, my enigste en mooiste
liefling. Ek dink ek moet medisyne drink en bed toe gaan. Môre voel ek beter, dan kan ek weer die wêreld op my rug dra.’ Hulle maak gou klaar en hy gaan laai haar by haar dorpshuis in De Oewer af. Die ongemak in haar gemoed wil nie wyk nie. Skadu’s kan skielik en onverwags oor die heerlikste geleentheid val. Sy soen hom, maar hy is vanaand sonder passie.
N-BM:
Jy is ook ’n kranige akademikus, resensent en navorser: kortom, jy dra baie hoede. Jy het al genoem dat jy dikwels intensief navorsing doen voor jy ’n nuwe boek takel. Vertel ons gerus meer?
MB:
’n Skrywer se feite moet korrek wees, maak nie saak waaroor sy skryf nie. Die feite dra ook die storie, veral as dit geskiedkundig van aard is. Lesers moet nooit onderskat word nie, hulle is kundig en ingelig. Daarom doen ek baie navorsing vooraf en tydens die skryfproses. Soms verg ’n sekere tema meer navorsing, soms gaan dit makliker, maar ek doen moeite om alles so geloofwaardig moontlik te maak. My swotagtergrond het ook gehelp om my te leer navors.
N-BM:
Nou; gee ons ’n glimpie op énige iets wat jy nog nooit tydens ’n onderhoud gedeel het nie, byvoorbeeld: Wat is jou diepste geheim/vrees/begeerte?
MB:
As ek eerlik moet wees, is my grootste vrees seker dat iets waaraan ek gewerk en geskep het, afgekeur sal word. Dit deel ek sekerlik met ander skrywers. Wie wil nou al daardie moeite verniet doen? Buitendien is verwerping mos iets wat seermaak. Daarom juig ek kliphard elke keer as my pennevrug aanvaar word. Maak nie saak wat dit is nie, of dit kort of lank is.
N-BM:
Ek is seker die lesers is nuuskierig om te verneem wat se rol Alexander die Grote in jou lewe speel. Vertel ons meer?
MB:
Alexander die Grote, bless his feline soul, lê mos altyd langs ounooi as sy skryf. My fluffy muse. Lê lekker op my woordeboek en notaboeke, of beur om op my skoot te lê. Probeer nou rek en tik oor daardie lyfie, en sien hoeveel foute maak jy! Hy slaap, maar loer eintlik heeltyd, sien ounooi tik, dan is hy blykbaar gelukkig en tevrede. Hier lê hy nou weer langs my nadat hy op my skoot probeer klim het en ferm met ‘n soen op die kop afgetel is.
N-BM:
Jy is geweldig produktief as skrywer, maar jy laat ook ’n definitiewe voetspoor op die sosiale media: jy het ’n baie aangename teenwoordigheid, en gee kennelik om vir ander skrywers en hulle werk. Jy is baie ondersteunend in dié verband. Maar die vraag is: Hoe lyk jou skryfroetine? Is jy ’n oggend-/aand-of nagmens? Wanneer is jy op jou produktiefste – en wanneer nié?
MB:
Ek ondersteun ander skrywers omdat ek goed weet watter moeite, hoop,
deursettingsvermoë en selfs verdriet dit verg om te skryf en hoe bly mens is as jy sukses behaal. My skryfroetine wissel. Ek skryf meesal die hele oggend, maar soms heel dag. As ek vashaak of moeg word, los ek dit liewer eers, en hervat later of die volgende dag. Soms vloei dit mos beter as ander tye. Werk net gereeld, en die produk gebeur. Beur voort, moenie moed verloor nie, sê ek altyd. En skryf oor en oor.
N-BM:
Elke verhaal wat jy skryf, is uniek in terme van karakters, stoffering en milieu. Hoe kry jy dit reg om deurlopend ’n vars kop vol nuwe stories te hê? Hoe gebeur die storie – beplan jy dit vooruit, of “lei” die storie jou as skrywer?
MB:
Dis wragtag eintlik ’n wonderwerk, vertel ek myself. Ek kry ‘n idee van iewers af, dink hoe ’n storie kan verloop, werk karakters uit en doen navorsing. Terwyl ek skryf gebeur dinge, karakters praat met my, verskyn en verdwyn, en insidente en oplossings kom klop aan my kop se deur. Ek verstaan dit nie aldag self nie, is net dankbaar dat dit gebeur.
NB-M:
Hoe hanteer jy sukses (of kritiek?)
MB:
My vel is dun, ek ly as ek gekritiseer word. As ek sukses behaal is ek vreeslik
dankbaar en verheug. Dit kom van Bo en ek waardeer dit.
N-BM:
Wat se drome sluimer daar in jou bucket list?
MB:
Jong, daai ding van die bucket list steur ek my nie aan nie. Ek gryp geleenthede aan en hoop vir die beste. Ek wil nie die Noord- of Suidpool gaan sien en weke lank op ’n cruise gaan nie. Ek het al baie gesien en beleef en vat elke dag soos hy kom. Solank ek ’n doel in die lewe het, al is dit net om ’n boek klaar te skryf, is ek oukei.
NB-M:
Waarna kan lesers volgende uitsien uit die pen van Malene Breytenbach?
MB:
In November verskyn my Romanza Tweede kans vir liefde, wat in Ciprus afspeel waar ek vir my kinders gaan kuier. Daarna nog een volgende jaar. In Januarie verskyn my roman Die vrywilligers (Luca). Ek het ’n kortverhaal in Rooi Rose in November en nog een in Desember. Ek werk tans aan ’n roman.
NB-M:
Vertel ons asseblief van die rol wat jou man, Willie Breytenbach, in jou lewe en skryfwerk speel.
MB:
My man Willie is ’n emeritus professor en sy vak was Politieke Wetenskap. Hy ken van navorsing doen en skryf, maar dis nie-fiksie. Hy is nie ‘n leser van fiksie nie. Hy ondersteun my nog altyd wat my studies en skryfwerk betref. Die ou engel is trots as ek sukses behaal, en troos as ek teenspoed kry, en hy is altyd geduldig met my skryfproses.
NB-M
Dankie vir ’n heerlike onderhoud, Malene! Waar kan lesers Liefdesleuens bestel? Liefdesleuens sal in boekwinkels wees en kan by Lapa/Penguinrandomhouse bestel word. Daar is ook ’n Romanza-klub waaraan jy kan behoort. Die boekwinkel Graffiti in Pretoria sal dit vir jou stuur as jy dit bestel. Dan is dit ook as e-boek beskikbaar, op Amazon.