Dit help nie dat ’n misterieuse meisie met lang swart hare elke keer in sy kamer aan hom verskyn, dat hy uitvind dat die dertiende verdieping van hulle woonstelgebou verbode terrein is en dat hy al meer uitvind van die grillerige aspekte van Chinese mitologie nie. Gelukkig bly daar in hulle woonstelblok heelwat Afrikaanse mense en hy maak ten minste gou maats.
Op skool begin dinge stabiliseer, maar dan breek die dertiende dag in China aan. Getrou aan Henk se bygelowigheid, ontvou daar asembenemende en angswekkende gebeure wanneer iemand wat hy ten volle vertrou het, skielik sy lewe en bestaan bedreig. Die onvriendelike karakter wat hy soms gewantrou het, ontpop as sy redder. So leer Henk en sy vriende dat mens nie iemand op sy baadjie behoort te takseer nie. Dinge is nie altyd soos hulle lyk nie.
Soos altyd is Hugo se taal suiwer en oorspronklik sonder om tieners af te skrik. Die karakters is ouens met wie jy maklik sal kan identifiseer – tipiese tieners, al woon hulle duisende kilometers aan die ander kant van die wêreld. Die storielyn tel vinnig spoed op, geen dooie dialoog kom voor nie en uiteindelik kon ek nie die boek neersit voordat ek nie die laaste bladsy bereik het nie. Daar is tye wanneer mens wil uitbars van die lag, tye wanneer jy jou naels kou, moed opgee, vrees vir die ergste …
Uiteindelik verras die skrywer (soos altyd) sy lesers en gebeur die mees onverwagte op die laaste oomblik.
Hierdie boek is, nes Pieter Hugo se ander boeke, ʼn goeie aankoop as jy vir ʼn tiener ʼn boek wil skenk. Dis ook ʼn goeie keuse vir ʼn skoolbiblioteek of ʼn boekprys.
© Marlies Taljard
Titel: Die 13de dag in Chengdu
Outeur: De Wet Hugo
Uitgewer: Lapa, 2025


Reviews
There are no reviews yet.